Watter meisie is die mooiste? Watter lied? Watter wyn is die lekkerste? Watter motor is die betroubaarste?
Eindelose debatte kan hieroor gevoer word.
‘n Soortgelyke debat in die kleine steek kop uit in Die Burger rondom ‘n nogal gewigtige vraag: Wat is die mooiste liefdesgedig in Afrikaans.
Twee is al op die tafel gesit. Die eer kom toe aan Boerneef se “Die Berggans Het ‘n Veer Laat Val”” meen oud-kollega en rubriekskrywer Wilhelm Jordaan wie se oordeel in sulke sake ek hoog aanslaan. Nee, laat weet Engela Retief vandag in ‘n SMS. Sy waag om te verskil. “Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif” van Breyten Breytenbach verdien die ereplek.
Die verse is albei verskriklik mooi en die digters meesters van die woord, reken ek. Maar wat van AG Visser? Met die vraag verklap ek natuurlik my ouderdom. Geen liefdesvers het my egter nog ooit weer so onmiddellik bekoor en lewenslank betower soos die “sanger van Heidelbergrand” se “Rosa Rosarum” nie.
“ Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag …”
Met die woorde het ek die eerste keer kennis gemaak in die Afrikaansklas van mnr. ZB (Zagrys) Naudé in standerd agt (meen ek) in 1955 aan Volkies op Potch. Soos niks anders wat ek op skool geleer het nie, het dit in my kop kom vassit.
Dis woorde wat huppel en sing, wat ‘n sekere verleidelikheid inhou, wat jou laat droom.
Vir ‘n parmantige meisiekind in standerd ses met die kortste rokkies in die skool het ek daardie selfde middag nog ‘n briefie met die volledige “Rosa Rosarum” as romantiese hoogtepunt van die koshuis Jack Pauw af na die meisiekoshuis Ons Hoop laat “koerier”. Sal ek vergeet hoe liefies sy vir my geglimlag het toe ek haar die volgende dag op die hoofgebou se trappe raakloop?
So meegevoer was die 14-jarige 70 jaar gelede dat hy homself wou-wou verbeel hy is ‘n ontluikende AG Visser 2. In standerd agt was in die jaarblad ‘n vers uit my pen onder die titel “Verlange”:
“Vanaand is ‘n aand van verlange, dit spreek uit die aanwind se lied,
“Dit spreek uit ‘n wolklose hemel waar ‘n eensame ster nog verskiet ….”
Verder as die skool se jaarblad het AG Visser 2 ongelukkig nie gekom nie . Lied … verskiet … verdriet – rymwoorde soos hierdie is eenvoudig nie vir poësiekenners ewe aangrypend as vir verliefde skoolkinders nie.
Deel dit: