Vir party kom dit eerste – ander bêre die lekkerste vir laaste. Of ‘n mens my jou humor voor of ná die erns verkies – geen leser van Finansies & Tegniek slaan die rubriek Duwweltjie oor nie.So het die uitgewer JL van Schaik in 1996 sy boek ‘’Duwweltjie – 10 jaar se beste grappe’’ bekend gestel. Hy noem dit ‘n puntige versameling en ‘n uitkoms vir elkeen wat soms ’n sedige ys moet breek.
Ek het gister vlugtig na die boek verwys rakende die bikininooi / polonooi Berdine Odendaal se eis teen die Resewebank oor die vereemding van aansienlike bates (geen bybedoeling nie) wat sy na bewering uit ‘n skelm verhouding met Steinhoff se Marcus Jooste verkry het.
Toe gaan haal ek vinnig die leertjie in die spens om my eksemplaar in my humorversameling op die boonste rak in die studeerkamer by te kom (humor uit die boonste rakke as’t ware). Daarna verlustig ek my opnuut in die 493 grappe / stories/ staaltjies / anekdotes wat in 144 bladsye opgeteken is.
Met verskyning van die boek was Gert Marais redakteur. Duwweltjie kom egter al uit die eerste redakteur, Salie de Swardt, se dae. Hy was ‘n man met ‘n borrelende humorsin. Ek glo hyself was die vader en vroedvrou van Duwweltjie.
Die vermoede word versterk deur ‘n stewige kwota stories uit koerante waaroor ek en hy saam gelag het as ons in die jare 70 uit die noordwestelike voorstede van Johannesburg Beeld in Doornfontein toe ry. Ons was geruime tyd ‘n plesierige tweeman-saamryspan.
Salie had ‘n fyn oog vir onder meer die drukkersduiwel se dinge wat tot stuitige brokkies in F&T kon lei. So het by eendag met behae in die Rand Daily Mail (dink ek) raakgelees dat Dawie de Villiers (oud-dominee nogal) weens ‘n ongelukkige setfoutjie “the minister of pubic enterprises” genoem word. Salie het geskud van die lag oor wat so ‘n minister se take als sou behels.
‘n Volksbladstorie wat ek hom vertel het en wat as anker vir ‘n hoofstuk oor “vleeslikhede” dien, handel oor fotograaf Willem van der Walt wat by ‘n dominee wou weet waar die dorp se terte is. Die leraar het stamelend geantwoord daar is “n paar onderwyseressies maar hulle is almal met vakansie”.
Enkele juwele van plattelandse korrespondente (korries) het die boek gehaal.
Dit sluit die volgende in:
• Met behulp van die dokter het die drenkeling sy bewusteloosheid teruggekry.
• Die finansiele sukses (van ‘n opvoering) was ‘n mislukking.
• Van die leerlinge wat in st. 8 geslaag het, het almal behalwe een deurgekom.
• Ons beste wense vergesel die heengaan van die twee (vertrekkende) gesinne.
• Mnr. X van die plaas Putfontein en mev. Y van die plaas Tergniet is al geruime tyd in die bed. Hul toestand is nie na wense nie.
En reken: ek het nooit ‘n sent tantieme gekry nie!