‘n Brandpunt van welsprekendheid, ‘n fees van keurige Afrikaans en ‘n jubelkoor van gevleuelde woorde.  Dit was die historiese NG kerk Durbanville vanoggend met die dankdiens vir kerkleier en Kerkboderedakteur Frits Gaum.

In waardige huldeblyke is onder meer gewag gemaak van Frits se vlotte formulering, gespierde skryfstyl en puntenerigheid oor spelling en punktuasie.

Wel, vir Frits sou dit bepaald ‘n vreugde gewees het as hy kon ervaar hoe voortreflik elkeen wat aan die woord gekom het, aan sy hoë standaarde voldoen het.  Vir my ‘n voorreg gewees om, somberheid ten spyt, die stylvolle geleentheid mee te maak.  Ek lig my hoed hoog vir een en almal wat opgetree het.

Die almal was:  seuns, Laurie en André, dogter, Lina Hattingh, en eggenote, Henda, asook, van buite die gesinskring, Chris Jones en Freek Swanepoel.  Kleinkinders Fritz Johann Gaum en Judi en Gerlo Hattingh het die Skriflesing netjies behartig en Henda het gesorg vir ‘n klein kamee aan die einde met haar eiesoortige, imprompru bedankings.  (Moet ook Willem Luitingh se orrelspel noem.)

Dit was ds. Freek Swanepoel wat in sy treffende woorde van waardering  hoog ingesit het oor Frits se altyd korrekte weergawes van alles wat op skrif moes kom, as redakteur van Kerkbode en scriba van die algemene sinode.  Nooit in al die jare dat hulle saamgewerk het, kon hy sy kollega en vriend ooit op selfs die geringste spelfout wys nie.

Ook André het na die besonderse taalgevoeligheid verwys. Hy is die program vir die diens met ‘n fynkam deur dat tog nie ‘n spelfout insluip nie, het hy laat val!

Ds. Freek het ‘n merkwaardige brokkie geskiedenis meegegedeel. Dit is dat Frits op 12 Oktober 1994 scriba van die sinode geword het – dag en datum presies 30 jaar gelede.  Hyself (ds. Freek) is by dieselfde sinode as moderator aangewys en ds. Kobus van der Westhuizen, wat ook vanoggend teenwoordig was, as assessor. Hulle het ‘n hegte kerklike driemanskap gevorm.

Pres. Nelson Mandela het daardie sinode toegespreek: die eerste en tot dusver enigste staats- en regeringshoof wat by ‘n algemene sinode van die NG Kerk opgetree het. (Hy het in sy rede onder meer erkenning aan dié kerk gegee vir sy rol in die vreedsame oorgang na ‘n nuwe bedeling in Suid-Afrika.)

Op Frits wat daardie sinode tereg die “sinode van versoening” gedoop het, het die taak geval om die president by die deur te gaan verwelkom en die sinodesaal in te begelei.

Toe verloor die president se skoen.  Frits het geen oomblik geweifel nie, op sy knie gesak en die skoen aangetrek.

Frederick Malherbe Gaum was waarlik ‘n man vir wie jy jou ou skoene kon agterna gooi en sy sobere maar treffende dankdiens het sy waarde weerspieël.

Deel dit: