Miljoene woorde het in 50 – meer as 50 – vrugbare skryfjare uit Martie Retief-Meiring se tikmasjien / rekenaar gevloei.  Met een paragrafie   vereenselwig ek my 110 persent.  Dit was oor die bos-broederskap wat in my bos-toevlug Sabiepark heers.

Op 7 Februarie 1980 in Beeld skryf sy treffend: “Swart, wit, watter taal ook, watter stasie in die lewe ook, reik oor grense heen as hulle in hierdie atmosfeer van die bos saamsit om ’n vuurtjie, vertel van ’n spoor, onthou van toe die troppe groot en naby was, waarsku teen ’n luiperd wat baie naby aan die kamp rondbeweeg.”

Ek sou Sabiepark eers jare later, in 1988, ontdek. Net so het alles daar aangetref as wat my mede-Beeld-pionier dit in 1980 beskryf het. Uiteindelik was die Van Deventers en die Meirings se huise in Sabiepark net ‘n  klipgooi van mekaar. Albei bereik jy via Apiesdoring – en Wildevylaan.

Van hul huis, Meiringspoort op erf 267, staan drie herinneringe uit: die ruim dakstoep, die “blaker” en die vloed van 2000.  Die stoep is seker soos die een waarvandaan koning Dawid die skone Batseba afgeloer het toe sy bad. Van daardie stoep kyk jy ver tot binne die wildtuin oor die Sabierivier.

Sabieparkers kan nogal mededingend raak as hulle begin “stoepstories” vertel. Een spog met ’n watertand-luiperdstorie, ’n ander met ’n vertelling oor ‘n uiters seldsame voël hoog en droog in ’n oorhangende tak. Die prys vir die sonderlingste stoepervaring moet gaan aan Martie en ’n vriendin. Hul waarneming was in Martie se woorde “uniek, maar vreeslik tragies”.

Van daardie stoep het die twee vroue dopgehou hoe vlugtelinge uit Mosambiek die rivier probeer oorsteek. Voor hulle val ’n baba toe in die water. Hulle het magteloos aanskou hoe die ou rooi bondeltjie sommer net verdwyn. Later het soldate van die mense se goedjies gekry wat saam in die water beland het. Daaronder was foto’s van die familietjie voor hul hut in Mosambiek. Die baba was spoorloos.

By Meiringspoort het ek ook ‘n unieke “blaker” gesien. Die nekwerwels van ’n ontslape kameelperd het vir daardie doel ’n nuwe lewe gevind.  So ’n nekwerwel met ’n kersie lyk kompleet nes ’n engeltjie!

Met die Groot Vloed van 2000 het ek my uit Melkbos na Sabiepark gehaas vir ‘n inspeksie in loco. Een van die mees dramatiese gesigte was die Meirings se huis omring deur ‘n see van water.  Die Sabierivier het deur hom gevloei. Ek het ‘n foto daarvan. My eie was gelukkig droogvoets.

Martie se argitekman, Hannes, het hul anderster Moorse huis ontwerp –  anders as al die ander boshuise in die reservaat.  Hy was natuurlik ook die argitek van Beeld se eerste kantore in Doornfontein, Johannesburg.  ‘n Pakhuis is as ‘n tuiste vir die nuwe dagblad herontwerp. Op die manier het Hannes en Martie se paaie gekruis.

By Beeld het my en Martie se paaie ook gekruis. Op die eerste redaksiefoto wat in 1975 geneem is – hoekom nie in 1974 nie weet ek nie – sit ek en sy langs mekaar in die voorste ry (foto links). In daardie voorste ry is dit nou nog net Ton Vosloo, Ebbe Dommisse en ekself wat lewe. Voorheen oorlede is Johannes Grosskopf, Bob van Walsem, Piet Botma, Bob Lindsay en Lorna Vosloo. Mag hulle, en nou ook Martie,  in vrede rus.

By daardie koerant is ‘n kollegiale broederskap in die span gesmee (ook met die susters) wat tot vandag voortduur. Vir ‘n keer dat sy dit in uitdagende omstandighede uitgeleef het, bly ek haar veral dankbaar.

In 2009 is my boek Byl in my bos gepubliseer  – my herinneringe aan 130 mense wat reeds langboompies toe was (‘n lys wat al hoe vinniger groei). Die lysie in Byl sluit in politieke leiers, kollegas en allerlei groot geeste met wie ente saamgestap is. Ook oor geliefdes in eie gesins- en familiekring, gerespekteerde onderwysers, hegte skool- en studentemaats. vriende, selfs ‘n getroue tuinman, Daniël , wat vooruit is.  Dit is nie ‘n gedugte boek nie.

Die Burger het Byl nietemin vir Martie gegee om te resenseer.  Haar resensie was kollegiaal simpatiek ondanks gebreke wat ek goed besef.  Vir Crito van Litnet (later onthul as kollega Kerneels Breytenbach) was dit te dik vir ’n daalder.  Vir hom was die boekie te lig in die broek vir ‘n gerekende resensent soos kollega Martie.  Wyle Frits Gaum (ook pas oorlede) was in Kerkbode darem ook minder afwysend as Crito. Maar dit net terloops.

Wat ek eintlik op die hart het, is dat Martie se dood – minder as ‘n maand ná Beeld se 50ste verjaardag –  vir my soos min ander die verwisseling van generasies beklemtoon. Hoe lank nog, dan is ons almal weg en bestaan daardie era net op skrif.  Sic transit gloria mundi.

Deel dit: