
Persbaas Ton Vosloo – noem hom gerus ook Meneer Beeld – se Beeld 50-gedenkboek met boodskappies van Barnard Beukman, redakteur, en Erika de Beer, samesteller, is Vrydag op Melkbos aan hom besorg.
Die boek kom saam met my die 2 000 km van Kaapschehoop in Mpumalanga af waar dit, letterlik nog inkvars, op Saterdag 31 Augustus by die heuglike 2024-Natsteen van De Wet Potgieter se kuierkroeg Nagkantoor bekend gestel is.
Vir my was die oorhandiging op Melkbos ‘n besonderse geleentheid: ons twee silwervos-pioniers van die eerste Beeld-redaksie wat in die seekosrestaurant Orca Café oor ‘n heerlike bord kos (swaardvis) en keurwyn (Klein Constantia se sauvignon blanc) kopstukke oor ons dekadeslange saamloop in die perswêreld gesels.
Ons twee ken mekaar al van voor Beeld se dae af. Maar in Doornfontein, Johannesburg, is waar ons mekaar in 1974 werklik leer ken het. Ton was ‘n assistent-redakteur en ek die nuusredakteur. In 1977 het hy Johannes Grosskopf as redakteur opgevolg.
Die boek was my dankiegeskenk aan ‘n leier en mentor wat in my lewe en loopbaan oor die afgelope halfeeu vir vele hoogtepunte verantwoordelik was. Hy het vir my geleenthede geskep en kanse gegee. Ek eer hom daarvoor.
Dat juis swaardvis op die spyskaart was, was vir my ‘n baie spesiale bonus.
In 1977 was ek ‘n Niemangenoot aan die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, toe Ton as deel van die ‘n Ussalep-span Amerika besoek het. Ussalep (Unites States South Africa Leadership Programme) het Suid-Afrikaanse Niemangenote as’t ware geborg.
Ton, ‘n voorganger as Niemangenoot, het my en Tokkie die aand vir ‘n ete na ‘n seekosrestaurant in die Bostonse hawekant genooi. Ons het swaardvis geëet – ‘n eerste kennismaking met die koningskos vir die Van Deventers.
Toe die kelnerin Vrydag noem dat swaardvis onder Orca se lynvis is, het ek – sentimenteel soos hierdie ou koerantman nou maar is – dus geen oomblik getwyfel nie. Vir haar en die eienaar (wat kom help afdek het) het ek opgewonde van die swaardvis-konneksie vertel. (En Orca se swaardvis was voortreflik!)
In die boek vir Ton het ook ‘n paar ander groot geeste van Beeld voorin geteken die middag op Kaapschehoop, onder andere Tim du Plessis, ‘n latere oud-redakteur, en Herman le Roux, assistent-redakteur wat sportredakteur was, rubriekskrywers Blouwillem Theron en Annemarie van der Walt en oud-assistent-redakteur Willem Pretorius.
Ek sou graag al die teenwoordige Beeldmense laat teken. In die gedrang en met die toets teen die All Blacks op die nippertjie het die plan ongelukkig skipbreuk gely.
Natuurlik is my eie boek ook saam Orca toe vir Ton om dit te teken en met ‘n ‘n gulle boodskappie vir my ekstra waarde te gee. Myne is op die oomblik die enigste Beeld 50-boek met die gesogte handtekening van grondlegger Ton Vosloo, skepper van die mantra wat ook in die subtitel van die boek weerklank vind: slaan ‘n groot storie hard.
Miskien verdien die eerste nuusredakteur van Beeld darem in ‘n mate so ‘n onderskeiding. Die ou het waaragtig kliphard genoeg gewerk om daardie koerant wat ons almal so innig liefgehad het, te water te help laat.