Heldergroen nuwe blare en spatsels wit en geel blomme verklap dat lente in die Laeveld vasberade op pad is.
Die knoppiesdoring, sambokpeul en drolpeer is voor in die koor met hul blomme. Rosyntjie- en aartappelbosse wen die blarewedloop – altans so lyk dit van ons stoep af.
Met die boeiende ommeswaai in die natuur raak Tokkie opnuut verdiep in ‘n allemintige naslaanboek wat ons so ‘n jaar of drie gelede by een van die outeurs present gekry het.
Die titel is “Trees and shrubs of Mpumalanga and Kruger National Park” – ‘n ware ensiklopedie wat geen boompie of struikie oorslaan nie, hoe beskeie ook al. Meer as 950 spesies word gedek en ryklik met kleurfoto’s en delikate sketse geïllustreer, maklik 2 000 of meer pragstukke.
Die outeur by wie ons ons kosbare eksemplaar present gekry het, is Ernst Schmidt, voorste gemmerboer van die kontrei. Hy is ook ‘n Sabieparker. Altyd lekker om by hom en Leonie in Jakkalsbessielaan te gaan inloer.
Om ‘n boom of struik te identifiseer, is ‘n gedugte taak, veral as hulle so volop is en so in bosformasie voorkom soos in hierdie wêreld. Ernst (en sy mede-outeurs) se boek is ‘n gids sonder weerga.
Verskeie aspekte van die magistrale boek van 700 bladsye tref Tokkie so dat sy telkens my nader roep om te kom kyk.
Een is die magdom feite oor elke inskrywing. Vat nou maar die rooi-ivoor op p. 378. Jy kom te wete wat die naam is in elke taal wat in die gebied gepraat word. Jy word ingelig die wetenskaplike naam, Berchemia zeyheri, kom van ‘n Duitse botanis, CLP Zeyher, wat van 1799 tot 1858 geleef het!
Dan volg die gewone boombeskrywing. Dan brokkies oor die wye aanwending, onder meer as enema vir rugpyn, en oor die eksklusiwiteit. Net die Zoeloe-hoofman mag sy knopkierie van rooi ivoor maak. Dit is die patroon vir elke boom.
Hierbo is die drolpeer genoem. Raadpleeg Ernst-hulle se boek en jy slaan jou hande saam oor die verskeidenheid: rotsdrolpeer, pienk drolpeer, gladde drolpeer, rivierdrolpeer, silwer drolpeer … Tot ‘n pienke. Genugtig.
Uiters nuttig vir die boomliefhebber is ‘n seksie oor vir watter spesiale bome in watter streek opgelet moet word. Ons “nasionale boom” op Wildevy 154, Sabiepark, is die knoppiesdoring (knob thorn). Goed om te weet dat “ons boom” ook in die Mopanie-bosveld noord van die Olifantsrivier kenmerkend is. Sal my nek daarvoor rek as ek ooit weer daar kom.
Heerlik om die manjifieke boek so saam-saam op Tarlehoet se stoep te herontdek. Dankie weer eens, Ernst.