Met renosters so skaars en in die suide van die wildtuin saamgebondel soos hulle is weens al die stropery, kan ’n mens nie verwag om sommer in ‘n japtrap die Vyf Grotes raak te loop nie. Op Donderdag 22 Augustus – ná sewe weke – kon ons eers ons telkaart voltooi.
Toe gelukkig nie net met ‘n renoster iewers doer in die veld nie. Wel vlakvoor Oom Paul se granietbeeld by die Krugerhek. Vir ‘n groep jong buitelandse toeriste was sy teenwoordigheid ‘n bron van groot opgewondenheid. Almal het vir almal saam met die trofee ((hoewel horingloos) afgeneem. Ekself het aanhou klik.
Wat ‘n Donderdagoggend was dit nie: eers ‘n reuse-trop buffels, maklik 1 000, wat by die hotel Kruger Gate rustig die Sabierivier oorsteek, toe die Meneer by Oom Paul, en later ‘n erewag van ses kameelperde by Tarlehoet, asof op ‘n militêre parade met hul oë stip op ons plek gerig. Alles in net onder die twee uur en binne vier kilometer van hier.
Wat sou die kameelperde so geboei het? Kan net raai.
By die hotel was dit ‘n uur lank net buffels, buffels, buffels. Van die swembaddek kon ons onbelemmerd dophou hoe hulle – swart soos tampans aan ‘n hoender (dankie, Zsa-Zsa Pieterse) – skynbaar sonder einde uit die Sabi-Sand-wildreservaat aangetou kom en stadig deur die bos aan die oorkant van die rivier opgeslurp word.
Ná ‘n uur was die skouspel nog geensins verby nie, maar die skielike skraal windjie het dinge onplesierig begin maak. Hoe ookal, groot buffeltroppe het al vir skouspelagtige tonele en hope foto’s gesorg. Geen vorige skouspel kon ons so lank aanskou nie.
‘n Netjiese bosbokram het tot Donderdag se vreugdes bygedra toe hy by ons watergat kom drink. Dalk die pa van nou die dag se lammertjie? Ongelukkig het ‘n bobbejaan ook die middag die bobbejaanproef-deksel van die asblik (met ‘n vol swartsak) gelig …. Tokkie was min geamuseer.
