Terwyl die winde van verandering so sterk by koerante waai, is dit dalk nie ‘n slegte plan vir koerant-verslaafdes om ‘n skilder se dienste te bekom ten einde ‘n permanente herinnering te skep nie.‘n Vriend stuur Sondag vir my die mooi skildery van ‘n koerantleser deur Coleen Shield (foto 1). Die eienaar is Hester van Rooyen, voorheen van die WNNR se rekenaar-afdeling en later vennoot in ‘n onderneming wat werk vir onder meer Danel, Transnet, Weermag en Telkom gedoen het. (Sy was een van die eerste mense wat in SA ‘n meestersgraad in rekenaarwetenskap gekry het – klaarblyklik ‘n slim vrou.)
Hester het die skildery jare gelede op ‘n uitstalling by die Dieretuinmeer by die skilder self gekoop. Die vriend se oog val toe daarop toe hy Sondag haar gas was by ‘n middagete en dink ewe bedagsaam aan Van Deventer.Praat ‘n mens van koeranteskilderye, moet jy natuurlik nie Danie Marais s’n van ‘n Volksbladleser vergeet nie. Dit hang in Volksblad se kantore in Bloemfontein en is op die voorblad van die uwe se laaste boek, “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” (Naledi). Danie, nou van Langebaan, het dit as opdragwerk vir die direksie van die Nasionale Pers geskilder as geskenk aan Volksblad met sy eeufees in die goeie ou dae. Vir diegene wat al vergeet hoe dit lyk, sit ek ‘n foto by (foto 2).