Tarlehoet-bosberaad.

n Windjie stoot soms uit die noordooste as ek vuurtjie wil aansteek in Sabiepark.  Dan gaan haal ek my verweerde blou windjekker agter die kamerdeur. Op sy bors is geborduur: Nasionale Koerante.

‘n Besoeker maak daaroor  ‘n opmerking: “Jy loop met jou hart nie op jou mou nie, maar op jou bors.”  Ter sprake op daardie oomblik is juis die slegte lot van koerante – ons albei se liefde.

Om krag aan sy woorde te verleen, gaan haal ek toe ook uit my kas my blou truitjie met Die Volksblad op die bors.   Die trui is ouer as die windjekker; het hom al minstens 30 jaar.  Lyk egter nog spiekeries.

In die kamer val my oog op die wekker voor my bed.  Op hom staan die naam van die skenker: Die Burger.

Onbedoeld het in die bos ‘n taamlike versameling koerante-memorabila tot stand gekom, besef ek skielik. Dit noop my tot ‘n opname.

Vereers is dit boekrak toe.  Al agt my koerantverwante boeke staan daar langs die bos- en wildtuinwerke,  van Scoops en skandes (1993) tot Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord (2023).

Teen verskillende mure hang onder meer ‘n Saterdaghoofartikel in Die Burger van 24 Julie 1993, drie dekades gelede, oor my Scoops-boek. Skrywer was Charles Fryer, redakteur by Tafelberg.  Die opskrif: Plesierige stories. Ek was/is ingenome met die eer aan my betoon.

Neffens hom hang die geraamde voor- en agterblad van my Volksblad-loopbaanboek Kroniek van ‘n Koerantman.

Elders teen ‘n muur is ‘n collage van boekevoorblaaie waarmee gaste by my 70ste verjaardag (3 Julie 2011) by Dale Schreuder, buurman op Melkbos, se restaurant in die Paddocks-sentrum in Milnerton, die Black Angus Grill, verwelkom is.  Vier koeranteboeke is daarop –  die twee genoemdes en ook In Kamera en Flaters en Kraters.

Afrikaans lewe!

‘n Beeld-herinnering is ‘n spotprent teen ons slaapkamermuur.  ‘n Korpulente figuur met ‘n oop koerant in die hande  (lyk bekend as ek in die spieël kyk) blaf in die telefoon:  I wish  to report a mistake. The Afrikaans press IS NOT  DEAD. .

Die spotprent was in ‘n bedryfspublikasie n.a.v. ‘n sake-onthaal van Beeld op 6 Oktober 1993 by Gold Reef City in Johannesburg waar ek die spreker was.   “Ons is miljoenêrs!” kon ek die aand “met vreugde” aankondig.  Die verwysing was nie na geld nie; wel na die 1993-lesersopname deur die onafhanklike organisasie Amps. Daarvolgens het die drie dagblaaie van Naspers – Beeld, Die Burger en Die Volksblad – die eerste keer deur die miljoen-kerf gebreek met ‘n totale leserstal van 1 004 000 lesers.

“Vir die doemprofete sê ek vanaand: trek uit u begrafnisklere, gooi weg u kransies, laat die vonkelwynproppe klap dat ons kan partytjie hou,”  het ek uitgeroep. My “teksvers” was Mark Twain se beroemde kabel aan die Associated Press oor ‘n premature doodsberig in 1897:  “The report of my death was an exaggeration.”   In die advertensiewereld was nie ‘n tekort aan oorhaastige “teraardebestellers” nie.  Die nuwe politieke bedeling sou die doodsklok vir Afrikaans lui, is voorspel.  Toe nie.

Van Die Volksblad is ‘n Kosbaarheid is ‘n geraamde spotprent en foto van ‘n hoofredaksie-saamtrek van 13 tot 17 September in Sabiepark en die wildtuinkampie Balule.  Die Tarlehoet-bosberaad is dit genoem.

Op die spotprent (‘n gedokterde een van Fred Mouton deur Sarel Venter) is ons braaimeester Piet Theron doenig by die vuur.  Die uwe, Sarel, Paul Marais en Herman le Roux bondel om hom saam. Kollega Jan Scholtz moes ook daar gewees het.  Hy is kort voor die “beraad” skielik oorlede.

Op die foto is ons plus ons gades, ook Jan se weduwee, Marlene, wat op ‘n roerende geleentheid op ons stoep ‘n pragtige, swaar skinkbord uit Jan se werkwinkel namens die gaste aan ons oorhandig het.  Die skinkbord pryk nou op Melkbos.

Maar van Jan is hier wel my kierie uit Transvaalse kiaat met die spoggerige vlakvarktand en ‘n lampie uit ‘n sekelbos-stomp wat hy uit my braaihout herwin het.

Ons ossewa-trofee.

Hier is ook ‘n geraamde foto van die (heelwat groter) hoofredaksie in 1986 by ‘n die replika van ‘n ossewa, geskenk deur die ATKV. Die Volksblad het dit verwerf met sy dekking van die simboliese Groot Trek.   Dit is beoordeel as die beste van alle media in die land. Wonder waar is die waentjie nou.

Duidelik vergeet ek nie my koerante-agtergrond en -kollegas wanneer ek in die bos uitspan nie.  Sal ook nooit nie, ondanks die droewe lot wat in ‘n mindere of meerdere mate op hulle almal wag, maar veral op Die Volksblad en Beeld.

 

Deel dit: