More uit Melkbos

Hoe lees jy jou koerant?

Party pik-pik; ander bestudeer hom van hoek tot kant.

Ek skat soveel maniere bestaan om jou koerant te lees soos om jou vrou te soen. Elkeen doen dit op sy eie manier.

Ek was een van die hoek-tot-kant-lesers. Nadat ek afgetree het, het ek progressief luier geword. Tokkie vang my uit dat ek goed mis, wat ek nooit sou gemis het nie. Gelukkig het ek wat ‘n mens kan noem “verkenner-lesers”. Hulle verken elke krieseltjie nuus en laat weet: Lees gerus op bladsy soveel die volgende.

Dankie, vriende, dat julle so as my oë en ore ageer.

Een van die deeglikste koerantlesers wat ek ooit raakgeloop het, is Ton Vosloo, voorsitter van Naspers. Hy verslind papier, daardie kêrel, en dwing mense om hom om ook wyd en deeglik te lees – anders wag verleentheid.

Ton het nou die dag in die Kaap die begrafniskennisgewing raakgelees van Ian Crabtree, eerste parkhoof van Sabiepark. Sy voorsprong bo gewone lesers is sy wye spektrum van kennis. As hy ‘n naam herken, bring hy dadelik die kloutjie by die oor.

My oud-kollega Herman le Roux is ook in daardie klas. As hy met vakansie gaan, laat hy sy koerante ophoop. Keer hy terug, gaan hy met n fynkam deur almal. Sy tradisionele taak is om elke jaar rondom Kersfees ‘n lys saam te stel van al die sportlui wat in daardie jaar langboompies toe is.

Hou maar dop. Herman se lys kom. Kyk maar of jy hom kan uitvang!

Op Melkbos is ‘n egpaar, Danie en Esbé Krynaüw, wat fyn lees: elke nuusbrokkie, ook elke inskrywing in die Kennisgewingkolomme, die sogenaamde “Hatch, match en dispatch”-afdeling van die koerant, of te wel wie’t getrou, wie’t n babatjie gehad, wie’s heen.

Danie is een van my Josua’s. Hy laat weet gereeld: Kyk hierna, kyk daarna.

Hy stel ook blogonderwerpe voor, soos die volgende: “Hennie, jy kan gerus blog oor wat mense onder ’sterfgevalle’ kwytraak”. Hy noem drie voorbeelde wat wys dis die moeite werd om ook daar rond te snuffel:

“Hy sal voortleef in sy erflating aan ons …”

“Mag jy lekker rus by Betsie en Jaco…”

“My Angel boy ,Scotty , thank you for loving
me the way you did.
Your loyalty and love will always be
Remembered.
I wrote your name in the sand
but the waves washed it away.
Then I wrote it on my heart and that’s
Where it will always be.

“Your loving mom and girlfriend and all your human friends”

Scotty se van word, aldus Danie, ook aangedui. Dié mense was duidelik lief vir die hondjie, besluit hy, en ek kan nie anders as om saam te stem nie, (HvD).

Naskrif: Wat die illustrasie betref: nee, koerante kry daagliks stapels nuus – veels te veel vir die beskikbare kolomme. Koerant uitgee is ‘n proses van selekteer en verkort op ‘n ingrypende skaal. Onvermydelik bly van die beste berigte soms uit, en haal vrottes die koerant. Die menslike oordeel is, helaas. nie altyd onbesproke nie.

Deel dit: