
Ses van laaste sewe redakteurs van Die Volksblad/Volksblad het die brief onderteken. Hulle is Hennie van Deventer, Johan de Wet, Paul Marais, Jonathan Crowther, Jo van Eeden en Gert Coetzee. Ainsley Moos (derde van regs) is reeds oorlede.
Veertien voormalige redakteurs van Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport – onder andere Ton Vosloo, Meneer Naspers oor vier dekades – spreek in ‘n brief hul sterk teenkanting uit oor Media24 se ingryende planne met koerante.
Hulle vra Media24 om sy besluite dringend te heroorweeg en geleentheid te bied vir wyer oorlegpleging en besinning.
Die redakteurs spreek die wens uit dat al die betrokke koerante as aparte entiteite in PDF-formaat op Netwerk24 moet bly voortbestaan.
Hulle vra dat redaksies met voldoende hulpbronne bemagtig word om, soos in die verlede, diens aan die Afrikaanse leefwêreld in sy verskeidenheid te lewer.
Die oud- redakteurs verteenwoordig die volle spektrum van amper vyf dekades van 1977 tot nou. Almal nog in lewe en bereikbaar het hul gewig agter die brief ingegooi.
Die volledige brief hier onder is op 27 Junie 2024 per e-pos gerig aan Prof Rachel Jafta, voorsitter: Media24-direksie. met ‘n afskrif aan mnr. Ishmet Davidson, uitvoerende hoof, Media24:
Geagte prof. Jafta
Re Media24 se besluit rakende die algehele sluiting van Beeld en Volksblad asook die gedrukte weergawe van Rapport met ingang 1 Oktober 2024:
Ons rig dié brief aan u in ons hoedanigheid as oud-redakteurs van die Naspers/Media24-publikasies Die Burger, Volksblad, Beeld en Rapport.
Ons boekstaaf hiermee ons teleurstelling en ernstige kommer oor die gevolge van dié besonder drastiese ingryping, nie net vir gehalte-joernalistiek in Afrikaans nie, maar ook vir die breë Afrikaanse gemeenskap.
Ons verstaan die oorhoofse sakeredes. As oud-redakteurs weet ons maar te goed die kostes van druk- en verspreiding het onhoudbaar geraak. Ons besef ook die toekoms vir nuusmedia is digitaal en dat wêreldwyd die gedrukte media teen ‘n versnelde tempo digitaliseer. Elders ter wêreld oorleef sekere drukmedia steeds, ook in die VSA, hoewel Warren Buffet en Jeff Bezos onlangs nog daarin belê het. Dit ter syde.
Maar ons lewer ‘n ferm pleidooi vir die behoud van gehalte-joernalistiek in Afrikaans onder die vaandel van mashoofde wat oor dekades heen bekend en gerespekteer is in die Afrikaanse gemeenskap. Ons versoek ook dat al die geraakte titels op die Netwerk24-platform voortleef in PDF-formaat
Voorts vra ons dat Media24 se redaksionele spanne – wat mettertyd almal in die digitale sfeer sal werk – moet kan reken op dieselfde toewyding en hulpbronne as wat hul voorgangers in die druk-era van Naspers/Media24-direksies ontvang het.
Lede van die top-bestuur van Media24 gee nou in die openbaar te kenne dat geen verskraling sal gebeur wanneer die drukweergawes gesluit word. Maar hoe gaan dit moonlik wees as redaksionele poste afgeskaf word en begrotings gesny word op ‘n skaal wat nog nooit voorheen in Naspers/Media24 gesien is nie? Die waardeketting in die nuusbedryf – digitaal of gedruk – begin immers by bekwame redaksies wat met hulpbronne ondersteun word.
Sedert die stigting van Die Burger in 1915 was Naspers/Media24 se Afrikaanse koerante ‘n markplein vir idees, uitdagings, verkennende denke en om, in Ton Vosloo se woorde, “te publiseer vir ‘n voller samelewing”. Dis waar Afrikaanse mense met mekaaar stoei, stry, verskil en saamstem, waarná hulle meestal vorentoe beweeg. Tans is ons Afrikaanse titels een van die ruimtes waar wit en veral bruin Afrikaansspekendes bymekaar kom in een taalgemeenskap. Hierdie kultuurskat moet tot elke prys behoue bly. Daarby glo ons ‘n lewenskragtige, diverse Afrikaanse media, verbind tot die vooruitgang van die totale SA gemeenskap, is ‘n bate wat koestering verdien.
Ten slotte wil ons ons kommer betuig oor die verskraling van die Afrikaanse leefwêreld wat die beoogde planne sal meebring. In die grootste gedeelte van die land bestaan Afrikaans nie meer as ‘n regstaal nie. Afrikaans se status as ‘n volwaardige akademiese taal hang aan ‘n draadjie. Die Afrikaanse taal en kultuur verdien nie bywonerstatus in ‘n demokratiese Suid-Afrika nie.
Ja, daar is steeds Afrikaanse skole, Afrikaanse kunstefeeste, ‘n gerespekteerde teaterbedryf, Afrikaanse rolprente, ‘n dinamiese letterkunde, enkele Afrikaanse tydskrifte en die TV-kanale kykNET en Via. Maar al dié instellings funksioneeer in ‘n ekosisteem waarvan lewenskragtige Afrikaanse nuusplatforms die suurstof én die bloedsomloop is. Die afskaling van ‘n behoorlike nuusaanbod in Afrikaans, dus die verwatering van eerstehandse verslaggewing, sal ‘n domino-effek op die hele taalgemeenskap hê.
Ons versoek dat die Media24-direksie die besluit ter sprake heroorweeg om geleentheid te bied vir wyer oorlegpleging en besinning. Laat belanghebbendes toe om voorstelle te doen oor hoe die negatiewe impak van die besluit soos dit tans staan, teëgewerk of versag kan word. Oorweeg ook voorstelle van buite die maatskappy wat die lewe kan verleng van die gedrukte weergawes, al is dit tydelik. Dit sluit in gemeenskapskoerante.
Ons verneem graag u reaksie.
Met vriendelike groete
- Ton Vosloo Beeld 1977 – 1983
- Hennie van Deventer (Die Volksblad 1980 – 1992)
- Ebbe Dommisse (Die Burger 1990 – 2001)
- Johan de Wet (Volksblad 1992 – 1994; Beeld 1996 – 1999; Rapport 1999 -2001)
- Willie Kühn (Beeld 1993 – 1996)
- Paul Marais (Die Volksblad 1994 – 1999)
- Jonathan Crowther (Volksblad 1999 – 2009)
- Peet Kruger (Beeld 2001 – 2009; 2011 – 2013)
- Tim du Plessis (Rapport 2001 – 2008; Beeld 2009 – 2012)
- Bun Booyens (Die Burger 2010 – 2016)
- Bokkie Gerber (Rapport 2010 – 2012)
- Jo van Eeden (Volksblad (2012 -2015)
- Waldimar Pelser (Rapport 2013 – 2022)
- Gert Coetzee (Volksblad 2015 -2022)
Ton Vosloo, redakteur Beeld 1977-1983; besturende direkteur Naspers 1984- 1997; voorsitter Naspers 1997 tot 2015, ondersteun die brief met die volgende aparte verklaring:
As redakteur wat Beeld in 1983 geneem het tot die enigste Afrikaanse dagblad in die Noorde na die hewigste persstryd in die geskiedenis, het ek volle begrip vir die veranderende mediatoneel wereldwyd. SA loop ook deur en die leiers van Media 24 word daarmee gekonfronteer.
Ek het vertroue dat hulle in oorleg met Naspers se voorsitter Koos Bekker die uitweg sal vind wat Afrikaanse joernalistiek sal rig op die volgende fase van sy deurslaggewende bestaan.