Vandag begewe ek my op ‘n terrein waarvan my kennis ‘n ronde nul is. Van sg. werklikheidsreekse op TV is ek geen kyker nie. Soms sien ek egter onvermydelik ‘n reklamegreep raak, soms ‘n toevallige flertsie en soms ‘n storie in ‘n tydskrif of koerant met ‘n prikkelende opskrif.
Elke keer is ek dankbaar dat ek nie die oupa van een van die mooi meisiekinders is wat hulle so as openbare vrymateriaal opdring en dan vir hulle die risiko van verwerping en vernedering (asook openbare snot en trane) op die (lae) hals haal nie.
Hoekom doen julle dit, liewe kinders? As al julle oupas soos hierdie oubaas is, moet dit vir hulle ‘n dolksteek in die hart wees dat kleinkinders vir wie hulle baie lief is, so vrypostig optree, (Ek het eers ‘n ander woord gebruik, maar dit met ‘n sagter een vervang.)
Natuurlik is daar g’n fout met ‘n vryery op sy tyd nie, maar liefs dan – soos in die ou dae – weg van die kollig. In my tyd wou ‘n jonkman liefs ook maar nie weet nie met wie sy nooientjie tevore kafoefel het nie. As sy, soos nou, op TV haar ware en talente in daardie rigting as’t ware voor Jan Rap en sy maat uitgestal het, sou sy gewis ‘n etiket van effens tweedehands om haar nek gekry het.
Nee wat, meisies, hou op met die verspottigheid. Laat die boere, die akteurs en daardie snare maar hul eie geluk loop soek en nie net met ope arms sit en wag dat TV-programmakers vir hulle plesiertjies aandra nie.
Dis nou maar ‘n ouderwetse oupa se raad, maar dink tog maar daaroor na of hy nie ‘n geldige waarskuwing opper wat vir julle seerkry kan spaar nie.
Deel dit: