As ek myself mag aanhaal; op my webblad (www.hennievandeventer.co.za of .com) het ek ses jaar gelede geskryf: “Die durendheid van studentevriendskappe is een van die vele onverdiende vreugdes wat in my 77 jaar oor my pad gekom…” Die 77 het nou 83 geword maar dit is nie soseer ter sake nie.
Ek wil net vinnig ‘n merkwaardige storie vertel van ‘n paar Kollegemanne wat in 1958 en 1959 in Kollege aangekom het.
Die betrokke 1958-modelle is die uwe (Potchefstroom), Cas Jacobs (Calvinia), Johan Bekker (Phillipolis) en Willem Paulsen (Harrismith).
Die 1959’s is Pierre le Roux (Calvinia) en Proppie Goosen (Kirkwood).
In 2018 was die ses van hulle – nou almal heelwat bo 80 – deel van ‘n Kollegegroep uit daardie era wat in die wildtuinkamp Orpen saamgetrek het saam met Vos Grey (Ermelo, 1958) en Manie Steyn (Krugersdorp, 1960) wat albei reeds oorlede is.
Die kontak tussen ons ses oorlewendes is sedertdien ongereeld en afwisselend.
In die week wat verby is, bel ek my goeie vriend Pierre le Roux (nou van Mosselbaai) om hieroor en daaroor te gesels. Daarna bel ek Cas Jacobs (nou van Centurion), met wie ek ook noue kontak behou, om na sy welstand te verneem. Hy ondergaan chemo-behandeling.
Die volgende oomblik lui my foon. Dit is Johan Bekker (nou van Jacobsdal). Hy is besig om met behulp van sy seun, Hennie, ‘n selfoonprobleem uit te sorteer. In die proses kom hy by my uit – sommer ook ‘n geleentheid om hom oor sy heupvervanging uit te vra.
Nie 12 uur later nie, lui my foon weer uit die Kollegekamp. Dis hierdie keer Willem Paulsen (nou van Bloemfontein). Heel onverwags. Hy wil net weet hoe dit gaan.
Ek kan dit nie glo nie: binne 24 uur het ek onbepland met Pierre, Cas, Johan en Willem gepraat.
Gisteraand lui my foon. Dis Proppie Goosen (nou van George). Werklik uit die bloute. Hy dink aan die goeie ou dae en goeie ou vriende met ‘n traan in die oog.
Is dit ‘n voorbode dat almal skielik aan almal dink, wil ek by Tokkie weet. Dis ‘n lawwe gedagte, meen sy. Maar dat dit ongewoon is, is ongetwyfeld. Niemand sal my van die teendeel oortuig nie.
Maar nou-ja: “Aan het oever van het Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam, zat een verie luid te wenen met een Matie vuur en vlam; zag het verie aan het Matie: Ziet je daar die Kollegeman? Ben de moord’naar van je vader ….”
FOTO: : Orpenspan en hul gades: (Proppie (Lettie), Willem (Joan), Johan (Antoinette), wyle Manie (wewenaar), Cas (Nella), wyle Vos (Magdaleen), HvD (Tokkie) en Pierre (Esther).
Deel dit: