Telkens as ek iets oor genadedood lees, dink ek aan Johann Beukes van Bloemfontein  – ‘n Suid-Afrikaanse pionier onder lydendes wat  in 2015 al met die hulp van die Switserse Dignitas-organisasie sy eie lewe beëindig.het.  Dignitas, soos nou reeds taamlik wyd bekend –  verleen onder streng voorwaardes hulp aan mense met genade-selfdood (eutanasie).

Johann, seun van die bekende dramaturg prof. Gerhard Beukes (“As ons twee eers getroud is”), ’n gerekende argitek en later ‘n voorloper in die reisbedryf, het reeds sy kinderdae weens erge fisieke gebreke pyn gely. Op ouderdom 66 het dit vir hom net te ondraaglik geword.

Hy het sy gesin en vriende rustig ingelig dat hy die pad gaan loop en hom aan die uitvoerige keurngsproses van Dignitas gaan onderwerp.  Dignitas beteken, terloops, waardigheid in Latyn.

Ek was toe al langer as 20 jaar weg uit Bloemfontein en moet bely dat my reaksie op die bekendmaking van die nuus van sy dood  ambivalent was.  Al het ek hom in die jare 80 feitlik daagliks gesien, en oppervlakkig bewus was van ‘n probleem, was die omvang aan my onbekend.

Ons feitlik daaglikse kontak was weens ‘n insident op Die Volksblad se terrein in die destydse Voortrekkerstraat (later Nelson Mandelarylaan).  My nuwe ampsmotor, ‘n goudkleurige Audi 200, is deur ‘n vragmotor sleg gestamp.  Woedend het ek na ander parkeerplek begin soek.

Dié kry ek toe by Johann se argitekspraktyk net om die hoek, skuins oorkant die Ramblersklub, net af van Aliwalstraat in Henrystraat (meen ek).  Sonder verdere insident het ek jare daar parkeer.  In die proses het ek die waardige en blymoedige man met die sagte stem en geredelike glimlag al hoe beter leer ken.

Toe in 2015 kom die nuus, bekend gemaak deur ‘n intieme huisvriend en steeds ‘n voorste bydraer op Nagkantoor, radioman Albe Grobbelaar. Dit was ‘n skok en die land het gegons.  Maar Albe se deernisvolle verklaring het ook die sluier gelig oor Johann se stille stryd.  Dit het diepe simpatie gewek.

Hy het naamlik ‘n seldsame  en uiters pynlike siektetoestand gehad waarvan die hoofkenmerk is dat die kraakbeen tussen gewrigte in ‘n onvoorspelbare tempo verweer. Dit is bekend as die Beukes-sindroom.  Sedert sy kinderdae het hy meer as dertig operasies ondergaan, wat verskeie ingrypende rugoperasies ingesluit het.

Op 31-jarige ouderdom het hy reeds bi-laterale [sic] heupvervangings, gevolg deur skouers, enkels en handgewrig-vervangings gehad. Hy was toenemend in konstante pyn wat nie met medikasie beheer kon word nie.

In die vroeë 90’s het hy weens sy toestand sy beroep as argitek prysgegee en ‘nsuksesvolle reisagentskap begin. My vriend, Andrew Murray, ‘n oud-ingenieur het hom daarin bygestaan.

In 2012 het hy tydens ingewikkelde hand-chirurgie in Duitsland ‘n hartstilstand beleef. Spesialiste het geoordeel dat sy pyndrempel verby hanteringsvlakke gegaan het. Dit is toe dat hy intensief na die Dignitas-opsie begin kyk het.

In die vroeglente van 2015 het hy na Switserland vertrek vir die voltrekking van ‘n waardige genadedood in ‘n goed ingerigte kliniek in Zurich. Net hy – stoksielalleen.  Vir sy vrou, Monique, drie kinders, Johard, Leandi en Izanne, en drie kleinkinders, moes hy groet voordat hy die eerste skof van sy eensame reis aangepak het.

Twee weke voor sy dood het Albe ‘n omvattende onderhoud met hom gevoer. Dit bied merkwaardige insigte.  Die onderhoud is te lese by https://maroelamedia.co.za/nuus/in-diepte/johann-beukes-n-onderhoud-voor-die-dood/

 

 

 

 

 

Deel dit: