
SO KUIER ‘N MENS: Tokkie, Gustav en Frances enkele jare gelede gemoedelik saam by Sabiepark se piekniekplek.
Dertien jaar gelede is my 70ste verjaardag op ‘n agterna-ete in die Sabieparkse huis van Gustav Hoexter, oud-appèregter, en sy sprankelende eggenote, Frances, gevier. ‘n “Nunc pro tunc” het die vermaarde regsman dit genoem – ‘n “nou vir toe”.
Aan die “nunc pro tunc” dink ek sedert ek my en Tokkie se vliegkaartjies vir ons Juliebesoek aan Sabiepark gekoop het. Hoop die iets-in-die 50-ste kuier by ons bosplek sal die geleentheid skep vir ‘n omgekeerde “nunc pro tunc”: ‘n agternaviering van Gustav se 100ste wat op 9 Februarie op ‘n fees soos min in Bloemfontein gevier is. Gaste het van heinde en verre opgeruk.
Ek en Tokkie sou wat wou gee om by die Bloemfonteinse fees teenwoordig te wees. Ongelukkig was ons op die waters. Daarom die hoop en verwagting op ‘n tweede geleentheid in Julie in Sabiepark.
Aan die aand in 2011 met my eie “nunc pro tunc” het ek die aangenaamste herinneringe. Ek is uit Tambotiestraat (die Hoexterwoning) huis toe met ’n bottel Bell’s (“gee daai man ’n Bell’s!”) onder die arm. Op die drasak was ’n stukkie Duitse waarheid: “Alt werden steht in Gottes Gunst, jung bleiben, das ist Lebenskunst!”
In my drasak was ook die woorde van ’n raak heildronk op die nuttige kurktrekker: “Here’s to the corckscrew! The key to unlock the storehouse of wit! The treasury of laughter! The front door of fellowship! And the gate of pleasant folly!”
Aan daardie wyshede dink ek terwyl ek hier skryf. Gustav is op 100 noodwendig nie meer die Gustav wat hy op 70 of 80 0f 90 was nie. Maar dat hy steeds ‘n lewende getuigskrif vir daardie Duitse gesegde en die heildronk op die kurktrekker is, staan soos ‘n paal bo water. Hy is by uitstek die voorbeeld van ‘n man wat die ware lewenskuns bemeester het.
Ek het hom by geleentheid Sabiepark se gulste gasheer genoem. Ons “grand old man” is egter nie net ‘n gulle gasheer nie, maar ook meesleurend galant en gevat. Ek onthou met vreugde die meesleurende anekdotes wat hy altyd langs die kampvuur of van sy punt aan die hoof van die tafel kon oprakel; sy onuitputlike fonteintjie van kwinkslae, feestelike bydraes tot tafelgesprekke en sy raakvat-kwotasies uit klassieke werke.
Watter vreugde sal dit nie vir hierdie 83-jarige wees as hy in Julie weer by die “front door of fellowship” van daardie eeu-oue “storehouse of wit” sal kan aanklop nie. Hou saam duim vas, asseblief.