Ruig, ruiger, ruigste. Ons verstom ons aan die omringende blaremure as ons op Tarlehoet se stoep ‘n ietsie geniet. Hemelhoog reik hulle soos wolkekrabbers. ‘n Kameelperd se kop gewaar jy ‘n vlugge oomblik tussen die takke. Dan is hy spoorloos. Die wildebeeste blaas-blaas iewers in ‘n blaretonnel, maar sien is verniet.
Die bloukuifloeries roep elke dag, maar bly onsigbaar; die nagapies is so bederf met die oorvloed kos in die veld dat vir die Van Deventer-tafel neus opgetrek word. Die naguiltjie hoor ons darem elke aand sing – pragtig.
Min wild kenmerk die paar dae in die bos. (Ekskuus Lorinda, maar ek sien ook weer geen duikers nie!)
Die swembad is ‘n lewensredder. Ek en Tokkie is in en uit die water terwyl die kwik in die laat 30’s vasval.
Die stabiele wi-fi danksy Brent se seinversterker is ‘n aanwins. Reken, nie een keer in die TV-kamer gekom nie.
Onder die minnerige dieregaste was die veldlikkewaan. Toe ek die knopneus-kalant met die ewe lank lyf en stert en dowwe, swart gevlekte skubbe teen die huis se klinkermuur sien opwoerts, is ek nie met behae vervul nie. Van die varanis albigularis oftewel veldlikkewaan se kirpatse het ek ‘n kaleidoskoop herinneringe, meesal vreugdeloos.
Die ergste was natuurlik toe ene dae lank in die huis gevangene was. Die toneel van wanhopige verwoesting was iets om te aanskou: gordyne wat in repe geskeur is, rame wat van mure af gestamp is, glasware wat onderstebo geloop en gebreek is en die hoop mis wat opgegaar het, het Kapous Mouton beskryf in kragwoorde wat ek nie vermoed het dat hy geken het nie.
Verskeie ander offensiewe om van indringers ontslae te raak, moes al geloods word. ‘n Keer was ‘n hele gesin van vier onder die gras ingewurm. ‘n Vanghok, telkens gelaai met vars gekookte eiers, het na dae van frustrasie beperkte welslae opgelewer.
‘n Keer het Brent een met ’n braaitang beetgekry net toe hy begin dekgras uitwoel.
Een amusante herinnering het ek darem ook. Een middag het dit skielik geklink soos ‘n haelstorm wat die dak (blik op gras) tref. Dis toe ‘n mannetjie en wyfietjie en die storie van die blommetjies en die bytjies. Wat ‘n kawolt. Die stemmige Leonora Mouton het amper van haar stoel geval toe ek haar meedeel: “Ons het vanmiddag seks op die dak gehad”.
Die huidige ou bak ook lekker in die sonnetjie by die agterste braai. Sy voornemens is klaarblyklik onheilig en onheilspellend. Ons sal die badkamerdeur moet toe hou die volgende paar dae – as hy dalk daarin slaag om finaal deur te breek.
Vermeldenswaardig is dat Caroline Pols terselfdertyd teen bobbejane te velde trek oor die minagtende behandeling wat haar nuwe grasdak van sekelstert-avonturiers te beurt geval het. Die bos het ook maar sy uitdagings.
Koffiekapitaal (met apologie aan Jan Spies) was om op ‘n Saterdagoggend om sesuur op die stoep die eerste koppie boeretroos te geniet terwyl ‘n troppie njalas – imposante bul, twee ooie en ‘n klein-klein lam – in die digte struikgewasse rondom die huis wei. Skielik kom die bul dan in die oopte. En die kamera is binne…. Dis ‘n goeie toets vir iemand se ratsheid op 83.
Die ou groot bosnagaap kom redelik gereeld. Hy maak die tafel skoon. ‘n Honger hiëna sluip hoopvol om die braailapa rond.
Menslike kontak was beperk tot die Presslys uit Skukuza en die Schmidts van Jakkalsbessie 50, Ernst en Leonie. Met Ernst se pa, Willem, het ek gemeenskaplike Natalse wortels: Vryheid, Dundee, Boshoek, Enyati, Hlobane…
In die lig van die temperature en ander dinge is vir die Presslybesoek ‘n boud vooraf op die Weber gaargemaak vir koue vleis en slaai. Op die Maniebraaier was tjops vir die aand self. Dit was die eerste keer dat ek twee braaipunte tegelyk beman – albei relatief suksesvol.