Wanneer ‘n passasier ‘n kwelling, ‘n vraag, ‘n paspoort-kwessie of wat het, geldjies wil omruil of met sy / haar rekening wil tred hou, is die weet-alles-span by die betaalmeester van die die Queen Mary 2 se lang toonbank die aangewese besoekpunt. Hulle is selde ledig.

‘n Besoek aan die betaalmeester bring jou in die sogenaamde “Grand Lobby”. ‘n asemrowende atrium-portaal wat oor vyf verdiepings strek. Hier is soveel mooi goed dat kameras sonder ophou flits: onder meer die elegante trappestel, ‘n spesiaal geweefde mat met ‘n ontwerp soos ‘n ster wat in ‘n bont kleurespel verskiet, ‘n skeepsklok wat telkens om 12:00 gelui word, ‘n swart vleuelklavier (een van 10 aan boord) en ‘n reuse-rangskikking wat taks om taks vervang word.

Die laaste paar dae van ons vaart na Mauritius was die rangskikking in die vorm van ‘n briljante pou met egte pouvere. Ek wonder of daar een vrou op die skip is wat nie by die pou afgeneem is nie.

Die portaal dien ook as netjiese ekstra sitkamer met lekker tafeltjies en stoele om by asem te skep. Dit grens op dek twee aan die casino en op dek drie aan die spoggerige Mayfairwinkels (met pryse wat pas) en die “Champagne Bar” waar altyd iets aan die gang is, tot vroegoggend-hekelklasse. As jy daar sit, voel jy deel van die aksie.

‘n Raaisel wat ek nie aan boord kon opklaar nie, was waarom die “Grand Lobby” vir my tegelyk so bekend en so vreemd lyk. Tuisgekom, het foto’s van ons vorige reis die antwoord gebied.

In die groot oormaak van die skip in 2016 is ‘n klein deeltjie van die $132 miljoen bestee om twee koper-en-glaskas-hysbakke uit die portaal te verwyder. Of dit wins of verlies is, weet ek nie so seker nie. Was lekker om in hulle op en af te rits, ofskoon hulle nie juis funksioneel was nie. Die ruimte wat gewen is, skep aan die ander kant ‘n oopheid wat ‘n mens uitnooi om daar te kom uithang.

‘n Tweede raaisel bly onopgeklaar. Ek en Tokkie sit nog so toe die vleuelklavier neffens ons skielik begin speel: Rachmaninoff. Die wit en swart note woel op en af, maar die pianis se stoeltjie is dolleeg.

Seker die een of ander rekenaar-slimmigheid. ‘n Mens hou egter maar jou hart vas as die toekoms so digitaal begin raak dat dit kunstenaars van vlees en bloed met ‘n rekenaarprogram vervang.

Deel dit: