Alle paaie lei na die Royal Court-teater op dekke drie en vier van die Queen Mary 2 wanneer Zelda la Grange die intieme sluier lig oor haar werksverhouding met die Suid-Afrikaanse staatsman-ikoon Nelson Mandela. Haar boek word opgeraap. Sy moet net teken, teken, teken.In die Clarendon-teater, vlakby die Queen’s Room op dek drie, haal die skilderye oor die Suid-Afrikaanse natuurlewe van Darryn Eggleton maklik R200 000 stuk. Sy lewensgetroue leeus, luiperds, sebras en wat nog verraai waar hy vandaan kom. Hy is in 1981 as ‘n seun van die Krugerwildtuin gebore en het tussen die wilde diere grootgeword.
In die imposante Brittania-eetsaal op dek twee en drie is een aand Weskus-kingklip op die spyskaart; die volgende aand springbok. Laasgenoemde klink veral indrukwekkend in die Engelse kos-idioom: “Roasted cranberry and walnut crusted South African springbok loin”. Die bykosse is William potato, creamed Savoy cabbage, roast thyme carrots en blackberry sauce.
Pure Suid-Afrika, en dit op ‘n skip wat drup van Britse tradisie en styl. Maar so maak hierdie grootste en duurste vlagskip van Cunard telkens ‘n buiging na die gasheerlande wat hy op sy jaarlikse sogenaamde Wêreldtoer besoek. Vanjaar is Port Elizabeth, Kaapstad en Durban in daardie volgorde aangedoen.
Zelda, Darryn en die Suid-Afrikaanse geregte uit die vlekvrye staalkombuis is ook nie al wat aan Suid-Afrika herinner nie.
In die sogenaamde “Ïnsights”- (praatjies deur kenners) hoor die passasiers van olifante, krokodille, die Zoeloekultuur en die Kaapse-Hollandse boukuns op wynplase. Oral maak hulle kennis met Suid-Afrikaanse (en Zimbabwiese) kelners, kamerbedieners en ander lede van die bemanning.By ‘n middagete ontmoet ek byvoorbeeld vir Michael, ‘n flink, jong Kôsakelner van Brackenfell. Hy en die Melkbosser kliek dadelik en gesels land en sand oor bendegeweld wat van die Kaapse Vlakte na sy tuisomgewing oorspoel. Hy vertel ook hy het die kombuis shakalaka leer maak.
Ons groot SA kontingent wat saam vaar op die nuwe segment van Kaapstad na Mauritius – agt bekoorlike aande op die “hin skeep”, soos ‘n vriend die QM 2 noem – kan bors uitstoot oor ons land. Ongelukkig bestaan ook rede tot verleentheid,
Voor elke Suid-Afrikaanse besoekpunt word passasiers gewaarsku: wees op jul hoede; misdaad is op ‘n ongekende vlak. Wat Durban betref, word – seker gedagtig aan die onlangse uitbarsting van wetteloosheid – selfs die moontlikheid van burgerlike onrus genoem.
In Durban word almal boonop deur die department binnelandse in ‘n lomp operasie van die skip af geboender om op die grond hul paspoorte gestempel te kry. Mense mor oor die ongerief. Die kaptein vra diplomaties om verskoning.
Mense mor ook oor sekere duur uitstappies wat min oplewer, bv. na armoedige “townships”, straatmarkte wat weens beurtkrag skaars aan die gang is, en parke wat vir buitelanders bra doodgewoon is.
Jy neem kennis dat Suid-Afrika nie by die reisplanne vir 2025 se Wêreldvaart ingesluit is nie en dat oor herinsluiting in 2026 nog onsekerheid bestaan. Jy wonder stilletjies watter faktore alles vir die situasie verantwoordelik is.
Jy gun dit vir soveel mede-Suid-Afrikaners as moontlik om die skip te leer ken en al sy wonderlike elemente te geniet. Met die toekoms so in onsekerheid gehul, lyk die onverwagte herbesoek in April weens die Midde-Oosterse krisis al hoe meer na die kans van ‘n leeftyd.
As nog ‘n kajuit beskikbaar is op die vaarte na Lissabon en/of Southampton van 13 tot 28 April, raap dit op. Pryse is onherhaalbaar. Jy sal betower word. Dit kan ek hand en mond belowe