Dit moet hier in 1968 rond gewees het toe die aankondiging kom dat die Vrystaatse Universiteit ‘n mediese fakulteit  gaan kry.

Vir die universiteit en die provinsie is ‘n droom bewaarheid: iets waarvoor lank en met mening agter die skerms gespook is.  Vir Die Volksblad was dit vanselfsprekend belangrike nuus.  Boonop eksklusief aan ons besorg in die veronderstellingv dat ons daaraan reg sal laat geskied.

In die eerste uitgawe was dit die hoofberig op die voorblad en op die plakkaat. Tereg.

Tussen die twee uitgawes steek die teleksman Bennie Lean, soos sy gewoonte met belangrike nuus was, sy gesig deur die luik wat die subkantoor en die telekskantoor skei. Hy oorhandig ‘n flitsberig van Sapa  – ‘n “snap” is dit genoem – met die tipe storie wat ‘n koerantman se adrenalien terstond laat pomp.

Die uwe was hoofsubredakteur en dus eerste ontvanger van die boodskap uit Bennie se hand.  Dit het iets soos volg gelui: “Daughter of South Africa’s ambassador in Vienna abducted.”

Sjoe!  Ek druk my half gerookte Rembrandt van Rijn in die asbakkie dood en storm met die stukkie vuurwarm telekskopie na die assistent-redakteur, Oom Bart Zaaiman.  (Hy het later redakteur geword en ek het hom opgevolg, maar dit net terloops.)

Die gedistingeerde Oom Bart was nie ‘n man vir verbale demonstrasie van emosie nie. Jittetjie, Hendrik, roep hy uit. Albei besef egter die implikasie dadelik.  Die UV se mediese fakulteit is sy staanplek as hoofberig op die voorblad kwyt.

Die ambassadeur se ontvoerde dogter is uit elke hoek beskou eenvoudig ‘n groter storie. Dis ‘n loeloe. Ons gooi dit groot.

Die “ontvoering” vervang ook die aankondiging van die mediese fakulteit op die tweede uitgawe se plakkaat.  Daardie tyd had ons net een plakkaat en klaar.

Natuurlik is by ons Kovsievriende teleurstelling oor die verloop van sake, maar hulle verstaan. ‘n Koerant is immers ‘n koerant.  Nuuswaarde, nie sentiment nie, bepaal die prominensie van ‘n berig.

Twee, drie dae oorheers die ontvoering in Wenen (ja, so spel ‘n mens Vienna in Afrikaans) die nuus.  Toe kom ‘n lammerige beriggie: nee, die dogter is nie ontvoer nie. Sy het, soos tieners oral soms die nuk kry, eenvoudig uit die ambassadeurswoning weggeloop. Sy het ge-“abscond”; sy is nie ge-“abduct”nie.

Die wegloper is nou gevind en uit haar skuilplek aan haar verleë ouers terugbesorg. ‘n Diplomatieke insident van allemintige proporsies is afgeweer.

Maar die stouterd!  Hoop haar boudjies het gebrand (by wyse van spreke)  – met sommer ‘n ekstra raps of twee vir die skade wat sy Kosies en Die Volksblad aangedoen het.

Terugskouend: die aankondiging van die nuwe mediese fakulteit moes liewer maar as hoofberig bly staan het.  Altyd makliker om spore dood te vee as ‘n spookopjaery nie te prominent gehanteer was nie.

Maar hoe moes ons nou geweet het?

(Dat die storie nie in “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” is nie, is te betreur  Ek het skandelik daarvan vergeet. Gister, eergister laat die naam “dr. Van der Spuy” my daaraan dink. Van der Spuy – dit was die naam van die ambassadeur in Oostenryk.  Hy het later senator en minister geword.)

Deel dit: