Om in ‘n betroubare mandjie herinneringe van 50 jaar gelede te gaan krap, is die daaglikse plesiertjie wat “Die Burger” se rubriek “50 jaar gelede” ouer lesers bied.  Vandag is daar o.m. brokkies oor die te wagte geboorte van die Rosenkowitz-sesling en die tekort aan sluitbare petroldoppe weens ‘n vlaag van diefstal van die uiters skaars voggies daardie tyd.

Die heel laaste brokkie is oor ‘n advertensie vir ‘n Dodge SE vir R3 750. Dan is dit wat my spogkar gekos het waarvoor ek nie ‘n sent betaal het nie. Ek het al vergeet. Daardie R3 750 is vandag plus-minus R260 000 werd, verstaan ek. Die Dodge Super Edition sal jy egter nie vir 2 x R260 000 kan koop nie.

Die SE (Super Edition)  – die super-duper-topmodel van die gewilde Valiantreeks – was die wenprys in ‘n kompetisie van die Nasionale Party.  Deelnemers moes ‘n limeriek voltooi wat soos volg lui:

“Vir 25 jaar ‘n wakker party / wat gereeld die opposisie / met mening kasty/ Nasionaal is sy naam / hy kan baie hard slaan/ taradam, taradam, taradam.”

My slotreël (namens my vrou, Tokkie) is toe: “Soos die vuisvose Sappe met verdriet moet bely!” Tokkie wen toe die Dodge. Die foto is geneem toe ons hom die oggend by Human Motors gaan haal het.

Die beoordelaars was dosente aan die departement Afrikaans-Nederlands van die Vrystaatse Universiteit onder leiding van professor Carel van Heerden. Hulle het in hul motivering opgemerk die limeriek is eintlik ’n geestige vers wat ’n mate van spot behels en die laaste reël moet ’n kwinkslag wees. Alle ernstige slotreëls is daarom gediskwalifiseer.

“Die wenpoging toon die beste verband met belangrike elemente soos opposisie, kastyding en hard slaan, wat ’n deurlopende draad vorm. Ook uit ’n verstegniese oogpunt het dit meriete.”

Later het ek gehoor PLS Aucamp, hoofsekretaris van die NP, was briesend dat ‘n Volkbladman se vrou gewen het. Hy was bang vir die beskuldiging dat suurlemoensous geloop het.  Tot hul eer het die beoordelaars vasgeskop: dis die  wenner en kant en klaar.

Lank en lekker gery met die Dodge SE – so ‘n maroene met ‘n ligbruin vinieldak en witwalwiele. Gelukkig was petrol nie so duur nie, want so mooi soos my kar was, so dors was hy.

Deel dit: