Terwyl 2023 in sy pylvak met versnelde pas na sy “saktyd” marsjeer (strompel?), diep ek weer ‘n deerniswekkende vooraand-foto op van my oud-hoofredakteur by die dagblad Beeld, Schalk Pienaar. Oor enkele ure sou die eerste uitgawe van die rolpers kom.
Toe al in ‘n stryd teen kanker, dwaal Pienaar in afwagting op die vars koerant alleen deur ‘n verslaggewerskantoor waarin die tikmasjiene vir die nag stil geword het.
Dat die hoofredakteur diep in sy eie gedagtes versonke was, is aan sy lyftaal tasbaar. Verskeie vrae oor die nuweling moet immers in sy gemoed gemaal het. Die oorheersende: sou die toekoms vir sy koerant voorspoed inhou of mislukking?
Die simboliek van die foto by die jaarwisseling is treffend. So wag Suid-Afrika mos nou ook op die saktyd van die ou jaar en die verskyning van ‘n nuwe. Vrae oor wat in 2024 vir sy mense en vir die land wag, is in die media aan die orde.
Kom groter voorspoed – dalk ‘n nuwe daeraad – of wag maar weer mislukking en verdere agteruitgang? Eers as die nuwe jaar “op straat kom”, om ‘n koerant-idioom te gebruik, sal ons stadigaan die antwoorde begin kry.
Intussen dobber ons maar so hoop tussen hoop van sommige en die vertwyfeling van ander. Niemand weet werklik nie.
* Terloops, Beeld vier op 16 September 2024 sy 50ste verjaardag. Sy pad het hy oopgekap tot die enigste Afrikaanse dagblad in die noorde. Die Transvaler is weg, Die Vaderland is weg – so ook Hoofstad en Oggendblad in Pretoria. Maar die stryd was lank en moeisaam. En dis ver van volstry. In die digtale era het nuwe uitdagings gekom, nuwe eise, nuwe aanpassings en nuwe probleme.
Mag 2024 ons almal aangenaam verras