Op Sondag 26 Desember 1976 sou ons vroeg in die pad val na Florida, “Sonskynstaat” aan die suidpunt van Amerika. Toe ek die kamergordyne in Cambridge, Massachusetts, oopskuif, wag ‘n asemrowende toneel. Die “wit Kersfees” waarop ons vergeefs gewag het, het toe in die nag opgedaag. Dis ‘n sprokiesland (foto).
Die bonus is nie sonder komplikasies nie. Natuurlik moet ons eers rondry en ‘n klomp skyfies (let wel) neem. Ons kom dus ure later in die pad as wat ons gehoop het. Die donker vang ons. So ontstaan die eerste teenspoedjie van ‘n hele paar op daardie gedenkwaardige vakansie.
Nommer een is toe die Cornona se ligte op ‘n padversperring val. Die pad is gesluit weens ‘n swaar sneeuval. Met baie vra en verkeerd ry kom ons laataand op Maartensville, Virginia – maar ‘n kleinerige plekkie.
By die eerste die beste motel verneem ek: “Waar’s die naaste kampeerplek in die geweste?” “Nee,” sê die eienaar, “dis nog bitter ver. Hoekom slaap julle nie sommer hier nie?”
Ek beduie die geldjies is maar skraps. “Wag,” sê hy toe, “ek is net verlede week getroud, en die bruilof was hier agter in twee groot kamers met en suite-geriewe. Julle kan dit kry vir $5 as julle nie omgee dat daar nog allerhande goeters rondstaan nie.
Daardie nag slaap ons toe skoon geskrop in sagte warm beddens met ‘n yslike koperkandelaar met hope kerse en welige palms in potte by ons voetenent (foto) – ons deftigste slaapplek van die reis.
Nou’s ons agter skedule en moet maar ‘n bietjie aanstoot. Op die “Skyline Drive” in die Shenandoapark gewaar ek in my truspieël ‘n kragtige Amerikaanse sessilinder. Op sy dak is daardie langwerpige ligaffêring wat verklap dis ‘n man van wet en orde agter die stuur.
Die kêrel lyk haastig. Hy is seker op iemand se spoor. By die eerste afdraaitjie swaai ek bedagsaam links in. Hy agterna. Ek klim dadelik uit en begin sommer dadelik ekskuus vra. “Sorry, sir, I did not realise …”
Net toe  leer ek iets van wetstoepassing op Amerikaanse paaie. “Get in your car, gebied hy. “And stay there.” Maklik vyf spannende minute verloop. Toe kom hy nader. Hoekom ry ek so vinnig? Wil ek een van hul bokkies doodry?” Die uiteinde is ‘n streng waarskuwing en ‘n “have a nice day”.
Die lang wag, verneem ek later, was om my hele “pedigree” op sy rekenaar op te roep. Op die manier wis hy ek is ‘n wildvreemdeling in Jerusalem.
Amper ‘n dag laat kom ons in Miami aan, en gaan soek ons in ‘n hoekkafee ‘n koffietjie vir ons dorstige kele. Toe ek wil ry, is die stasiewa se sleutels nie in my sak nie. Dit is binne die kar toegesluit. “Don’t stress,” sê die kafeebaas. Hier in die “drug store” langsaan is ‘n ou wat handig is met ‘n draad-klereskouer. Gedoriewaar, binne minute wikkel hy ‘n ruit oop.
Wat skuld ek? “Nothing buddy, but be careful, I’m not around all the time.”
Op Oujaarsdag 1976 maak die Van Deventers kennis met Disney World in Orlando. Kenners het gewaarsku: “Gaan vroeg, gaan ry heel eerste ‘duikboot’, anders staan julle die hele dag in ‘n tou.” Toe die hekke oopswaai, is ons dus in die voorhoede. Heel gou is ons in ons eie “Nautilus” onder die waters, omring deur visse, skeepswrakke, koraalriwwe en anderlike ondersese wondere: ‘n welaangename begin van die laaste dag van 1976 en ons 10de huweliksherdenking (ons trek op 31 Desember by 57).
Kleinsus se opvoustootwaentjie is by ‘n paar ander geparkeer. Na die vaart is dit spoorloos. Vir ‘n kort rukkie plaas dit haar op haar beentjies. Die res van die dag bring sy sy op haar pa se arm deur, boonop nie in ‘n lekker bui nie weens haar verlies.
So minus Marisa se wiele word dit dit ‘n vermoeiende 12 uur. Maar eind goed, alles goed. Op pad hek toe herken Tokkie in ‘n geskenkewinkel die vermiste waentjie aan ‘n vuilkol aan die rugkant en ‘n slingerwiel links voor. In hom was ‘n blas Suid-Amerikanertjie vasgegord.
Die konfrontasie met die ouers is kort maar intens. Eers wil hulle die gemene diefstal heftig ontken. Toe sis ek deur my tande die een woord “Police”. Die uitwerking is dramaties. Mamma gryp die kleintjie en laat vat. Pappa storm agterna met sy kuif wat in die wind flap.
Marisa het gespin soos ‘n katjie toe sy die bekende stukkie blou seil onder haar boudjies voel (foto).
Vroeër die dag was ons op ‘n bootrit op die sogenaamde Seven Seaways-waterkanale verby 300 singende, dansende poppies in kleurryke nasionale kostuums. Die oulike poppies wat 100 nasies verteenwoordig, sing aanhoudend “I’ts a small world” in vyf tale.
Niks kon my meer oortuig van die beperkte omvang van die wêreld nie as die vind van die spreekwoordelike naald in ‘n hooimied – ons ou piepklein waentjie in die enorme Disney World.
Deel dit: