Tokkie, Hennie, Rina en Herman – ‘n kwarteeu later.

Liewe leser

Van 5 Maart tot 15 April was ek en Tokkie by ons Sabieparkse bosplek, Tarlehoet, om ons heuglike verbintenis van 25 jaar saam met bosvriende met vonkelwyn en braaivleis te vier. Dit was een   hoogtepunt van ‘n goeie jaar.

 ‘n Kwarteeu gelede op 15 Maart 1998 was ons plus kollega Herman le Roux en sy vrou, Rina, saam in Tarlehoet se swembad. Op Woensdag 15 Maart 2023 was ons vier weer vrolik saam in die water om die kwarteeufees te gedenk.

‘n Nuwe dimensie is bygevoeg wat genoem kan word: wys my joune, dan wys ek jou myne. Herman en Tokkie was nie min breëbors nie oor hul onderskeie hartpasaangeërs by hul linkersleutelbene.  Tokkie het hare in Januarie ryker geword. Dit werk nog klopdisselboom.

Hennie, kunstenaar Danie Marais en “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord”

Stof tot dankbaarheid het die jaar weer onverdiend opgehoop. Dat ons kinders en kleinkinders in die feesjaar tyd saam met ons in Sabiepark kon deurbring, was byvoorbeeld vir ons baie spesiaal.

In Mei het Hennie se 22ste boek en sewende koeranteboek, Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord – ‘n Joernaal van scoops en skandes, by Naledi verskyn; werklik die allerlaaste uit die HvD-stal.  Die treffende voorblad – geskoei op ‘n skildery van Danie Marais – het van wyd en syd komplimente gekry.

In Oktober is ons Bultfontein toe vir Tokkie en haar mede-’63-modelle se viering van hul matriek-plus-60. Op die gesellige kuier op haar dorp van herkoms het ons kennis gemaak met seker die grootste badkamer in ‘n gastehuis in die land. So groot soos ‘n dubbelmotorhuis!

Agter my lessenaar saam met hoofredaksielede Piet Theron en Sarel Venter.

Die seldsame Vrystaatse besoek het die geleentheid geskep vir ‘n eerste besoek aan die unieke Volksbladkamer in die letterkundemuseum NALN in Bloemfontein. Vir ‘n trotse ou Volksbladder was dit – om die geykte inleiding tot vele toesprake te gebruik – werklik ‘n “biezondere eer en vooreg” om in die teenwoordigheid van gewaardeerde oud-kollegas weer agter sy deftige ou lessenaar in te skuif.

Op Melkbos het Hennie as roterende voorsitter by die Probusklub  kragte ingegooi. Teen die einde van die jaar kan die klub terugkyk op dinamiese herlewing. Danksy oopstelling vir vroulike lede en doelgerigte werwing staan die ledelys nou op 22: die gesondste posisie in jare.

‘n Melkbosse gebruik wat veel plesier verskaf, is die gereelde middagetes by lekker kontrei-restaurants saam met Basie en Lena Smit.

Tokkie, Johan en Mariza op die Sinfonia.

Saam met Johan en Mariza het ons vanjaar op die MSC Sinfonia na Walvisbaai gevaar. Op die einste Sinfonia het ons op haar eerste vaart in SA waters van Kaapstad na Durban in 2009 ons eerste avontuurlike “solovaart” met die tweeling-kleinseuns, Jacob en Thomas Claassens, onderneem. Hulle was toe vyf. Nou’s hulle 19.  Met die sierlike skip het ons daarna byna ‘n sentimentele verhouding opgebou. Minstens vier vaarte is op  haar onderneem.

Johan, Mariza en Migael het in die jaar van George na Oudtshoorn verhuis en “plaas” opgesit. Op hul grondjie neffens die Grobbelaarrivier word vir ‘n vale ge-“boer”. Die skapies moet bottel kry en die hoenders gevoer word. Die olyf- en granaatboompies kom mooi aan. So ook die groentetuin. ‘n Turksvylaning is geplant. Ontbyt se roereier kom uit ‘n stewige eie hok.

Tokkie en Migael gee die skapies melk.

Die beste van als: Migael is in sy element. Soos hy tevore op George lorries gewas het, pak hy die nuwe roetines met mening. Hy verkoop selfs al eiers in die buurt.

Maar hokaai eers. Natuurlik word die begrippe ”plaas” en “boer” hier bra hiperbolies en romantiserend ingespan. Alles geskied op klein skaal. Tog is die naam “Ons Plasie” in die kol. As jy so ‘n tinteling deur jou lyf voel gaan, moet jy weet dis jou plaas-gene wat so gestimuleer word.

Terug op Melkbos moes benieude vriende teen wil en dank geregte uit volstruiseier begin tower. Vir Tokkie was daardie groot, swaar eiers ‘n onweerstaanbare geskenkidee.

Jacob en Thomas word 19. Saam met Marisa, Brent en Christoher in die Fat Butcher.

In die Claassens-geledere is die groot nuus dat Jacob en Thomas hul eerste jaar op universiteit met goeie gevolg agter die rug het.  Hulle het Maties in murg en been geword en is so lief vir hul koshuise, Eendrag (Thomas) en Helshoogte (Jacob), soos hul oupa vir Kollege was.

Met hul 19de verjaardag is ons op geleide toere deur die koshuise.  Dat Jacob nou kitaar speel, was een ontdekking. Oupa moes erken dat die koshuiskultuur – veral die respek vir tradisie – hom imponeer. Hy moes ook erken dat Stellenbosch se Victoriastraat met sy erewag van akkerbome in hersfkleed ‘n skouspel is, die US met sierlike geboue kan spog en die skolebuurt langs die Eersterivier buitengewoon indrukwekkend voorkom.

Dan die Fat Butcher in Van Riebeeckstraat – ‘n biefrestaurant soos ons laas in Boston mee kennis gemaak het. Voortreflik met ‘n wonderlike atmosfeer. Net twee dinge: jy moet lank vooruit bespreek en nie sensitief wees vir pryse nie! (Gelukkig was skoonseun, Brent, twee keer die gasheer.)

In Welgemoed ontluik Christopher, nou ‘n Stellenberger, as ‘n al hoe kranige fietsryer. Brent en Marisa moet net bontstaan soos hy sy bakens verskuif. Hulle moes selfs al gaan waterbottels aangee op Brits in Noordwes by die nasionale kampioenskapsbyeenkoms vir skole. Die sing van die speke in die Kaapse fietstoer het tot 2 000 km ver in Sabiepark weerklink. Die Van Deventers was nie min trots nie op Christopher en Brent met hul ramkat-debute in die moordende marathon.

Die speke sing by die Argus.

Ná ‘n besige jaar wag op die gesin ‘n salige vaart op die MSC Splendida na Mauritius oor Nuwejaar. Die oumense bly nie agter nie. In Februarie is ons ook op pad na Mauritius op die QM 2. So word ‘n droom bewaarheid wat al tien jaar lank ná ons eerste kennismaking met daardie manjifieke skip in ons sluimer.  In Maart bestyg ons die Splendida saam met Basie en Lena Smit vir ‘n vaart na Walvisbaai.  Dalk die laaste.

Aan die debietkant is die onstuitbare ouerword en gepaardgaande onvermydelikhede soos toenemende vergeetagtigheid en verlies aan beweeglikheid. Ook kom ernstige siekte en dood al hoe meer in die spreekwoordelike eie bos voor.  Ons harte gaan uit na vriende wat swaarkry met veeleisende behandelings soos chemo, of wat rou oor geliefdes.

Finale groet.

Finale groet.

Ons het in die jaar talryke gedenkdienste bygewoon – te veel.  Onder die sterfgevalle was vriende en kollegas en hul gades.  Een was mentor en vriend Wiets Beukes, oud-redakteur van Die Burger. Hennie het die huldeblyk gelewer. Eers daarna het die besef deurgedring dat die tyd om nog ‘n streep te trek, vir hom aangebreek het. Op 82 raak die staan ‘n probleem. Daardie huldeblyk – een van sowat 20 – was sy laaste. Gelukkig kan sy vingers darem nog tik.

Uit Penguin Place 11 op die noot ons beste Kerswense vir een en almal.  Kom ons leef elke dag voluit, koester vriendskap, ondersteun mekaar en geniet mekaar se geselskap solank dit moontlik is.

Ons opregte Nuwejaarswense kom, soos verlede jaar, uit Psalm 72:

     Mag daar volop graan in die land wees,

     mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif,

     mag die oes so welig wees soos die Libanon,

     die graan so geil opskiet soos gras in die veld.

Hennie & Tokkie 

Deel dit: