
Tussen 20 000 en 30 000 stuks wild is op die Vrystaatse vlakte by Bloemfontein op ‘n bondel gejaag sodat prins Alfred, tweede seun van koningin Victoria van Engeland, en sy jaggeselskap na hartelus kon afmaai.
Tussen 800 en 1 000 het in die uurlange koeëlreen geval: springbokke, kwaggas, sebras, blesbokke, elande, volstruise, hartebeeste, wildebeeste, koedoes en wat nog. ‘n Klomp van die paniekbevange diere is met spiese doodgesteek. Ander is doodgetrap.
Agterna is die slagting op 24 Augustus 1860 triomfantlik as “The greatest hunt in history” aangekondig en in een verslag is aangeteken: “Suffice it to say that such a hunt, taken with all the concomitant circumstances and incidents, has not taken place in any part of the civilised world (sic) within the present century.”
Die gasheer was Andrew Hudson Baine, eienaar van o.m, die plaas Bainsvley (deesdae ‘n gewilde hoewegebied buite Bloemfontein ) waar die bloedstollende jag plaasgevind het. Die wild is dae lank deur ’n gewerfde skare swart handlangers te perd van oral aangejaag en op een kol vasgekeer.
Vroeg die oggend van 24 Augustus het prins Alfred en sy jaggeselskap van 25 mense ogedaag. Op hul spoor was toeskouers in waens en op perdekarre. Party was te perd.
Omstreeks 14:00 het die skietery begin. Die prins het ‘n groot wildebees platgetrek. Die gewonde dier het op die koninklike jagter afgestorm, maar is deur ‘n tweede skoot neergevel. Daarna was dit soos oorlog met soms skaars tien tree tussen die jagters en die voorste linie wild.
Prins Alfred het onder die malende diere geskiet so vinnig soos gewere van weerskante vir hom aangegee kon word. Hy en makkers het later wild en wakker met jagspiese onder gewonde diere ingevaar. Hulle was rooi van die bloed tot by hul skouers, en het meer soos slagters gelyk as soos jagters.
Rooi stofwolke het oor die plat Vrystaatse aarde gehang van die stormlope soos die verskrikte wild dan hier en dan probeer deurbreek. Hul wanhopige pogings is telkens gestuit deur die swartmense wat in ‘n digte kring om hulle saamgetrek was.
Die gevaar om deur wilde diere in hul doodsangs of deur jagters en handlangers se perde vertrap te word, het volgens deelnemers bygedra tot die opwinding van die jag. Van die perde het in die chaos losgebreek en op vlug geslaan. Twee het selfs in ‘n kleinhuise skuiling gaan soek!
Die chaotiese toneel op die ongewone jagveld word uitgebeeld op die skildery hierby. Dit is deur Thomas Baine en is deel van die William Fehr-versameling van die Kaapse kasteel.
In die uur wat die jag geduur het, het net die prins alleen sowat 25 bokke platgerek. Die hope vleis is vir die jubelende handlangers gegee.
Om getalle te bepaal hoeveel doodgeskiet, later van hul wonde beswyk of deur die handlangers gevang is, is egter nie maklik nie. Volgens sekere weergawes is 800 tot 1000 diere van alle soorte uitgewis. Seshonderd stuks grootwild is doodgeskiet en ‘n onbekende getal met spiese doodgesteek.
Volgens ander berekeninge lyk die prentjie erger. Sommige waarnemers bereken dat van die 20 000 tot 30 000 stuks wild wat omsingel is, sowat 5 000 op die een of ander manier verlore gegaan het.
Dan lees ek in een verslag: ”It was a very exciting day, and were his Royal Highness to live for a hundred years I do not believe he could ever see such a scene again, for the game in South Africa is fast disappearing. “
Kommentaar is seker oorbodig.
(Ek het oor die onheuglike Vrystaatse jagtog gaan nalees terwyl my vrou, Tokkie, met Eben Venter se boek “Decima” besig was. Sy het telkens geskok vir my daaruit aangehaal. Venter skryf o.m,. oor oud-president Theodore Roosevelt Jr. van Amerika se maandelange Afrika-safari in 1909 waarin min respek vir Afrika se wild betoon is en veral renosters voor die voet afgemaai is.)