
Die ou Volkiewapen op die gewel van die Ons Hoop-meisiekoshuis. Sal dit ook moet waai?
Vandag wil ek die wapen opneem vir ‘n wapen: my geliefde skool, Volkies van Potchefstroom, se klassieke en tradisieryke arendwapen.
Op die verre Melkbos kry ek sterk snuf in die neus dat iemand met jeukvingers aan my alma mater se wapen torring. ‘n Weergawe duik hier, daar en oral op met ‘n krans van akkerblare om ‘n arend wat ook ietwat anders lyk as die een wat nou al amper 100 jaar (sedert 1925) op generasies Volkies se borse pryk. Die skild word heel weggegooi.
Natuurlik het dit mode geword om ter wille van verandering blindelings te verander. Maar instellings met respek vir tradisie en hul identiteit – soos Volkies – moet waak dat misleides hulle nie op sleeptou neem nie.
‘n Arend omsingel jy waaragtig nie met ‘n kransie akkerblare asof hy ‘n sagte ou bosduifie of iets is nie. Behoede dit.
Die arend of adelaar is ver van sommer net ‘n hierjy-simbool. Jy vind hom op Amerika se wapen (sedert 1782). Jy vind hom op Duitsland se wapen (al sedert die heilige Roomse ryk). Jy vind hom in resenter weergawes o.m. ook op die koshuis Eendrag van die Universiteit van Stellenbosch se wapen. Laasgenoemde is opsigtelik by Volkies afgeloer – kompleet met die drie skakel van ‘n ketting.
Hierdie lande en instansies kies die sierlike heerser van die lug as hul simbool omdat dit krag, skoonheid en onafhanklikheid weerspieël. Hierdie voël beheers die lug omdat hy so hoog kan opstyg dat hy alle windrigtings kan verken. Daarin lê sy krag.

Die “nuwe” wapen
Om die rede is die arend-motief op genoemde wapens en andere van dieselfde kader oorheersend. Opvallend is die skoon lyne wat sy fierheid beklemtoon, die boodskap kragtig tuisbring en tot maklike identifikasie lei
Jy prop nie so ‘n wapen vol allerlei sêkondere simbooltjies wat hom besig, onnet of wanordelik laat voorkom en sy sentrale boodskap afwater nie. Visueel is so ‘n rommel-gedoente ‘n gruwel. Heraldies is dit ook hoogs verdag, meen ek.
Ek kan eerlik nie dink dat my Volkie-matriekmaats van 1957 – die klompie wat nog oor is – hulle sal vereenselwig met so ‘n onsensitiewe inbreuk op ‘n identiteit waarop hulle dekades lank trots is nie. Ook nie ander ouer generasies draers van die swart, rooi en goud nie.

Die regte Volkiewapen
Grootse prestasies is immers deur die jare onder die wapen ingeryg. Administrateursbekers en ander topbekronings is verower. Die naam Volkies is daardeur met eer beklee,
Sal dit nie billik wees om by wyse van ‘n referendum eers alumni te raadpleeg voordat aan die wapen gekarring word nie? Of is die drywer/s van die onbekookte plan op sy/hul hoede dat dit in ‘n referendum ewe kragtig verwerp sal word as wat Volkies se meisies – tot hul eer – ‘n plan gestuit het om hul geel skoolrokke met swartes te vervang?
Bestaan nie ook ander prosedurele vereistes vir so ‘n ingrypende stap nie? Word daardie vereistes hoegenaamd gerespekteer?
Nee, vir die drywer/drywers van ‘n nuwe-wapen-beweging moet die boodskap ondubbelsinnig deurkom: Hokaai net hier.
Wie is hy of hulle? Watter gesag het hy / hulle agter hom / hulle?
Soos die uwe verstaan, bestaan reeds ‘n kern van invloedryke teenstanders by die skool self. Die tradisionaliste se hande moet gesterk word. ‘n Breë versetbeweging is dringend nodig, dalk by wyse van ‘n petisie.
Naskrif: Dit was my voorreg om in 1976/77 aan Harvard in Cambridge, Massachusetts, te studeer. Hierdie sogenaamde “ivy league”- universiteit leef sedert 1836 met sy Veritas-skild as sy wapen saam. Die ontwerp is basies, skoon, eenvoudig, waardig en herkenbaar. Die simboliek tref jou soos ‘n voorhamer. Bewaar iemand wat nou skielik die bevlieging sou kry om ‘n takkie esdoring in te smokkel omdat dit die pragtige universiteitsdorp se kenmerkendste boom is!
Harvard se wapen – eenvoudig, skoon, treffend.