
Onheilspellend, vreesaanjaend, dodelik. Mense skarrel vervaard om weg te kom voor die toringhoë noodlotsgolf wat Saterdag by Leentjiesklip, Wildernis, die lewe van ‘n brose 93-jarige, mev. Jo Hartman, geëis het.
Mev. Hartman was aan die terugstap van die reling af toe die dreunende reusebrander haar en haar geselskap onverhoeds tref. Mev. Hartman is tot in die pad meegesleur en is in ‘n ambulans op pad na die hospitaal oorlede.
Hierdie beeld van die treurspel is ‘n gedeelte van ‘n foto van ’n ooggetuie, Tanya Rossouw van Wildernis. Sy het in haar bakkie gesit en foto’s van die onstuimige see geneem toe die muur water – sy skat dit so vyf tot ses meter hoog – skielik bo-oor haar voertuig spoel.
Op die ander helfte van haar oorspronklike foto is die groepie waarin die slagoffer haar bevind het. Tanya verkies om dit terug te hou uit respek vir die oorledene en haar naasbestaandes.
Selfs sonder daardie detail is dit egter ‘n uiters nuuswaardige foto – een wat volledig reg laat geskied aan wat die Franse fotograaf Henri Cartier-Bresson, vader van die moderne fotojoernalistiek, “The decisive moment” noem. Hy verwoord ‘n groot waarheid so: “Ons fotograwe werk met goed wat gedurig verdwyn. En wanneer dit eers verdwyn het, kan niks op die aarde dit terugbring nie. Ons kan nie ‘n herinnering ontwikkel en uitdruk nie.”
Eenvoudig gestel: jy het ‘n foto of jy het hom nie. Tanya het haar foto, al verkies sy dan om dit nie volledig met die wêreld te deel nie. My dank aan haar vir die vergunning om die halwe foto hier te plaas.