Dat die eerste uitgawe van Beeld more, 16v September,  presies 49 jaar gelede verskyn het, laat hierdie 82-jarige lid van die span stigters meteens stokoud voel. Hoop maar met die halfeeufees  aanstaande jaar sal ek nog hier rond wees om saam in die vreugde te deel.  Net vir ingeval dinge anders uitval, sal ek vanaand en more-aand al  ‘n premature feesglasie vonkelwyn daarop klink.

Op die hooffoto in hierdie klein collage oor daardie groot dag in my joernalistieke loopbaan staan  ons eerste redakteur, Schalk Pienaar, regs. Links is adv. Lang David de Villiers, besturende direkteur van Naspers, en in die middel  dr. Phil Weber, voorsitter.  ‘n Mens kan sommer sien die drie Naspers-swaargewigte bars van trots op die weerbarstige nuweling wat die koeranttoneel in die noorde later ná ‘n lang en bitter stryd op sy kop sou keer.

Bo links dwaal Pienaar op Sondagaand 15 September laataand deur ‘n verlate verslaggewerskantoor in die lelike ou eerste Beeldgebou in Millerstraat, Doornfontein  – nes ‘n verwagtende vader by die geboorte van sy eersteling.  Die formidabele redakteur sou helaas net enkele maande in sy veeleisende hou voordat hy weens swak gesondheid die aflosstokkie aan Johannes Grosskopf moes oorhandig.

Die klein fotot’jie regs onder is die Sondagmiddag in die fabriek geneem. Die uwe, eerste nuusredakteur, staan opgewonde en kyk hoe die eerste voorblad gestalte kry.  Dit is 49 jaar gelede. Dit voel soos gister.

Die heel eerste uitgawe het verskyn met ‘n scoop. Die Burger se Alf Ries, prins van politieke beriggewers, het daardie oggend met die Boeing uit die Kaap die berig gebring  – met komplimente van PW Botha. “Troepe oral op die grens”. Die Suid-Afrikaanse Weermag skud hom reg weens die chaos in Mosambiek ná Portugal se abdikasie. Troepe is oral op strategiese plekke aanwesig. Grense word gepatrolleer.

In Julie 1980 moes ek vir Beeld vaarwel sê om terug te gaan “huis” toe — as redakteur van Die Volksblad waar ek in 1963 my joernalistieke tande begin sny het. Tussen 1974 en 1980 lê ‘n verhaal van fantastiese hoogtepunte. Ongelukkig ook laagtepunte.  Maar watter onvergeetlike skof was dit nie.

Ek herhaal vandag graag ‘n woordjie wat ek ‘n keer uit die hart gespreek het en wat al telkens aangehaal  is:  Dat ek nie weet van enige ander koerant waarin soveel mense soveel liefde gestort het nie.

 

Deel dit: