Sestig jaar gelede, in 1963, was die opspraakwekkendste wêreldnuus die sluipmoord op pres. John F. Kennedy van Amerika in Dallas, Texas.  Beatlemania het oor die wêreld heen geswiep met die verskyning van die  debuutalbum van daardie Liverpoolse mopkoppe,  Please Please Me.  Die drukknoppie-telefoon is gebore.  Ook poskodes, die sogenaamde Zip-kode

In die mikrowêreld van die gesin Van Deventer – toe nog onbekend aan mekaar – het dinge geroer.  Hennie het by Die Volksblad in Bloemfontein ingeval as verslaggewer. Tokkie het op Bultfontein matriek geskryf, kort nadat die dorp elektrisiteit en spoeltoilette gekry het.

Dis die baken van my vrou se buitengewoon hegte matriekklas wat die kapstok vir hierdie skrywe verskaf.  Op 6 en 7 Oktober vier die klas sy matriekjaar ses dekades gelede. Ons ruk op Bultfontein toe vir die okkasie.

‘n Koerantknipsel uit Die Volksblad in daardie jaar (foto hierby)  bring ‘n glimlaggie. Tokkie, wat die A’s behoorlik inryg as pianis,  is ook lid van Bultfontein se volkspelegroep wat ‘n A op Bloemfontein se Kunswedstryd verwerf het – die enigste plattelandse skool wat dit daardie jaar kon regkry.

‘n Skoolseun van Grey met ondernemingsgees – ‘n latere geneesheer – skryf toe vir die geamuseerde skoolhoof op Bultfontein hy wil graag die naam van die donkerkoppie heel links weet en ook waar hy met haar in aanraking kan kom. “U daadwerklike optrede sal waardeer word.”

Gelukkig was die skoolhoof ‘n verstandige man. Anders was ek dalk my latere vrou kwyt. Op die foto bo  is sy in haar klassieke wit volkspelerok. ‘n Treffende prentjie, meen ek. Verstaan dat die ou so been-af geraak het.

’n Verdere terugblik op die jaar lewer allerlei wetenswaardighede op.  Premier Harold McMillan van Brittanje bedank onder meer na die slepende Profumoskandaal (die fraaie foonsnol Christine Keeler, onthou). Die Groot Treinroof vind plaas in Engeland; ₤2.5 miljoen verdwyn. Martin Luther King Jr  lewer sy “I have a dream”-toespraak in Washington DC in die VSA . Kenia word onafhanklik.  Die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) word gestig. Huisgenoot verskyn die eerste keer in kleur.

Geboortes van 1963 sluit in Garri Kasparof, Russiese  skaakmeester. Johnny Depp,  Amerikaanse akteur, rolprentvervaardiger en  en musikant.  TB Joshua, Nigeriese TV-evangelis, Damon Galgut, Suid-Afrikaanse skrywer en Bookerprys-wenner, rugbyman Jake White en skrywer-joernalis Dana Snyman.

Onder die sterftes is Sailor Malan, SA  vegvlieënier,  Edith Piaf, Franse sangeres, Aldous Huxley, Engels-Amerikaanse skrywer en digter, en Henry Fagan,  SA skrywer, politikus, regter en joernalis.

Voorste rolprent is Cleopatra (sterre: Elizabeth Taylor, Rex Harrison en Richard Burton)  met How the West was won kort op sy hakke.  In Suid-Afrika maak Emil Nofal se Kimberley Jim sy buiging met die Amerikaanse sanger Jim Reeves en Madeleine Usher.

Die Singing Nun se liedjie Dominique is  ‘n treffer:  Dominique, nique, nique, over the land he plods / And sings a little song/ Never asking for reward / He just talks about the Lord /He just talks about the Lord. Die groep The Beach Boys se gewildheid styg snel.

Groep Twee (Gert van Tonder en Sias Reinecke) tree na vore as Afrikaanse sangpaar. Elsa Joubert trek sterk in letterkundekringe aandag met haar boek Ons wag op die kaptein (later voorgeskryf). Mej. Suid-Afrika is ‘n mooi Boeremeisie Louise Crous (sonder ’n e aan die einde)  – sy trek nogal op die beeldskone Liz Taylor.

Die begeerlike Chevrolet Corvette Stingray is die Motor van die Jaar.  Die beste weeldemotor is die Buick Riviera, die beste weelde-sportnuts die Jeep Wagoneer en die beste ryding vir ‘n gesin  die Chevrolet Impala. In Suid-Afrika is die Cortina (self een gery van 1964 tot 1966) baie gewild. Die Borgward is ‘n motor vir fynproewers.

Die sogenaamde “Young look” tref die modewêreld soos ’n storm. Meisies dra kniehoogte-rompies, moulose rokke, laer hakke en natuurlike kort kapsels. (Vir mans is die safaripak bobaas!)

Aan die sportfront deel die Wallabies van John Thornett die toetsreeks met die Springbokke twee elk. Ken Catchpole is een van die sterre.  Sportman van die Jaar is die legendariese Gary Player wat die trofee ‘n weergalose agt keer verower het.

(Terloops, niemand het darem seker vergeet nie dat dr. HF Verwoerd die eerste minister was en CR Swart die staatspresident.)

 

 

 

Deel dit: