Agter: Herman en Hennie. Voor: Tobie en Philip.

Vier Volksbladveterane wat hul koerantloopbane in Bloemfontein in drie agtereenvolgende dekades begin het – die jare 50, 60 en 70- het in Sabiepark saamgetrek. Hulle is Herman le Roux, die uwe, Tobie Wiese en Philip van Rensburg.

Herman (op 88 die vierde oudste Volksbladder) het in die 50’s by Die Volksblad ingeval, Ekself in die 60’s en Philip en Tobie in die 70’s.

Die kollegiale saamkuier in die bos het groot hoogtes bereik soos die wonderlike stories van tot 60 jaar oud uit die kollektiewe koerantgeheue geryg is.

Die wegspring was ‘n voortreflike ete by van die Van Rensburgs in hul mooi boshuis, Ons Plasie. Die fillet was tot perfeksie deur die gasheer gaargemaak en die bykosse van die gasvrou het die gaste laat toustaan. Vars skyfies by ‘n bosete – verbeel jou!

Gister het die toneel na die Van Deventers laer af by Wildevy 154 verskuif waar Tokkie se geurige skaapbredie ‘n gunsteling was – en haar kleurryke slaai! Daarna is dit piekniekplek toe. Daar is diep gedelf, geheimpies verklap en vorige kuiers in Sabiepark in herinnering geroep.

‘n Vinnige berekening het aan die lig gebring dat meer as 20  Volksbladmense al op 154 se stoep besoek afgelê het in die 25 jaar  dat die Van Deventers die plek bekom het. Van hulle dosyne kere. Dis nogal merkwaardig dink ek.

Kleurryke Tokkieslaai.

Vir doeleindes van ‘n foto is ‘n Volksblad-aandenking met die datum 17 Maart 1992 van die soldermuur gehaal. Dit is die rolpersplaat van Die Volksblad se voorblad op die dag van die referendum oor die nuwe bedeling – die enigste keer in my redakteursloopbaan dat ek ‘n voorblad-hoofartikel geskryf het. Opskrif:  “Gryp die geleentheid.”

(Die geraamde plaat is nou saam met Herman se skoonseun, Frans Marais, op pad na die Erfenisstigting in Pretoria om deel van die Van Deventerversameling daar te word. Beter daar as ‘n donker solder in Sabiepark!)

Deel dit: