Hoe ver kan ‘n bosnagaap ‘n piesang ruik?
Dat sy kos – veral boomgom, bloeisels, sade en vrugte – gewoonlik deur reuk opgespoor word, is bekend. Daarvan het ons heelwat ervaring. Elke aand word op ons “piesangtafel” in Sabiepark sterk meegeding om die lekkerny. ‘n Gulsige mannetjie maak ‘n tafel vinnig skoon terwyl sy minderes lippe aflek.
Piesang is klaarbyklik ‘n prima-lekkerny. Die vraag oor watter afstand die reuk sy mond kan laat water, het by my opgekom na die eienaardige gedrag Saterdagaand van een van die twee gereelde bosnagaap-besoekers wat die vakansie gewoonlik omstreeks 18:00 so stil-stil hul opwagting maak. Jy sien dan net die katagtige dier met sy lan-a-ang stert van tot 50 cm – die langste deel van sy lyf – grasieus teen ‘n jakkalsebessie se stam afseil en die skyfies piesang met mening takel. Soos ‘n dorsmasjien ryg hy dit in. As jy nie wakker is nie, loop jy dit mis, want al wat jy hoor, is ‘n effense blaregeritsel.
Net voor slapenstyd Saterdagaand eet die uwe ‘n piesang by die groter stoeptafel – ‘n hele ent van die “piesangtafel” af. Waar ta geskuil het, weet ek nie. Maar voordat jy kon sê mes, het die aroma hom bereik. Hy sak langs sy gewone roete op die stoep toe met doelgerigtheid en entoesiasme.
Toe hy die tafel leeg vind, reageer hy egter soos ‘n berserker: draf om en om die swembad, spring op die lêstoel, staan pennetjie-regop soos ‘n meerkat en kom snuif selfs onder die groot tafel. Daardie groot oë bly op die piesang-bevoordeelde mensekind gevestig. Die aanvaarding dat die piesang op is, sink traag by hom in. Dis of hy omkyk-omkyk onwillig padgee. Toe gaan sit hy in ‘n boom en skel. Nes ‘n baba wat huil.
Die kleiner nagapies is eintlik ons gunstelinge. Ons moedig hulle stil stil aan om so vinnig moontlik weg te lê
voordat die groter bosnagaap opdaag. Maar laasgenoemde verskaf darem uit eie reg ook vir ons en ons gaste plesier. Veral baie stedelinge sien hulle die eerste keer as hulle hier in die bos kom kuier en is verstom oor die enorme stert en grasieuse bewegings.
‘n Besonderse aand was toe ‘n nuwe mamma een aand haar kleinding vir ons kom wys. Toe sy seker is, ons het gesien, verdxwyn sy weer in die takke van ‘n maroela, gaan deponeer die kleintjie en keer terug om te oes.