Ek ken withelmlaksmanne as woeilige Bosveld-voëtjies wat gewoonlik in groepies van 10 tot 15 laag bo die grond van bos tot bos woerts agter goggatjies aan. Gewoonlik is hulle bedeesd en stil. Jy raak net bewus van ‘n skielike vlinderagtige beweging – die volgende oomblik is dit net laksmannetjies waar jy kyk.
Soms as iets enetjie ontstel, sal hy ‘n geluid uiter. Die ander snater dan agterna. Gou keer die bedeesdheid terug.
Allesbehalwe bedeesd was hul gedrag ‘n dag of wat gelede by ons boshuis, Tarlehoet, in Sabiepark. Eers hoor ons ‘n onheilspellende geluid wat klink soos iemand wat die huis met ‘n klip bestook. Bobbejaan dalk? As hulle al menslike wandade pleeg soos om ‘n skuifdeur uit te lig –ja, hulle doen dit! – sal ‘n klipgooiery na ‘n verleidelike teiken my min verbaas.
Maar nee, geen bobbejaan in sig nie. Die derde, vierde keer toe ons na buite storm om die vreemde klapgeluid te ontsyfer, bemerk ek die enkele withelmlaksman wat, vlerke oopgesprei en vere wat in alle rigtings staan, die boonste badkamervenster aanrand.
Die woord “aanrand” word ná deeglike oorweging gebruik. Dis geen pip-pik-pik soos ek ‘n tarentaal al sien doen het nie, maar ‘n volskaalse bombardement met lyf, pote en snawel, die lot.
So moes dit omtrent vir pres, Ramaphosa in die bomskuiling in Kiëf (my spelling en ek staan daarby) geklink het toe die Poetin-missiele op die stad begin reën!
‘n Goeie 10 minute duur die aanval by Tarlehoet. Toe gee die ou pad. Maar hy gee nie pad om pad te gee nie. Hy vlieg weg om versterkings te gaan haal.
Kort daarna lok ‘n eenders stampgeluid as die eie aanvanklike een ons na buite. Maar nou is dit nie een voël met ‘n solo-aanslag nie. Dis ses of sewe van hulle. Dis nou ook nie meer net die badkamervenster wat geteiken word nie. Al die boonste vensters word met drif bygedam.
Dat hul ewebeelde in glas, veral getinte glas, ‘n verskeidenheid voëls se aggressie uitlok, is bekend. Wat kom soek die onbekende uitdager/s dan in hul gebied? ‘n Enkele gedagte oorheers in die veronregt/s se kop/pe: Weg met jou/julle!
In die proses word soveel stoom opgebou dat die eie bloed soms loop, veral in broeityd.
In 25 jaar in Sabiepark het ek egter nog nooit withelmlaksmanne so boosaardig sien optree nie. Merk dit dus af as loshande die ongewoonste belewenis van die eerste van ons nege winterweke hier.
Voorheen was die vreemdste withelmlaksman-gedrag wat ons ervaar het, ‘n neiging om op ‘n snikhete somerdag oopbek onder stoepmeubels te kom skadu soek. Kyk foto 2 hierby. Dit is op ‘n keer deur Sabieparker Brenda Thompson geneem.
NASKRIF: Van die eerste aand die kom die nagapies en die bosnagape konstant. Elke aand ding twee van die ou grotes mekaar mee vir die laaste skyfie piesang. Hulle wil mekaar net vat. Een geniet duidelik patriargale of ‘n ander voordeel. Hy wen keer op keer. Ook bloukuifloeries bly bedrywig. Jy hoor hulle aaneen kok-kok-kok. ‘n Keer was vier tegelyk in en om die voëlbad.