
Ek en Danie met die boek.
Verbeel jou dat die Mona Lisa vir jou knipoog. So ‘n halleluja-oomblik het ek beleef toe die skilder Danie Marais van Langebaan Sondag oor my drumpel op Melkbos stap.
Ter sprake is nou nie Leonardo da Vinci se meesterwerk wat in die grootsaal van die Louvre’s in Parys, die Salle des États, uitgestal word nie, maar Danie se skildery van koerantleser wat op ‘n prominente plek in die voorportaal van die koerant Volksblad in Westdene, Bloemfontein, hang.
In 2004 was Volksblad, die oudste Afrikaanse koerant, se eeufees. Die koerant se jubileumgeskenk van sy eienaar, Naspers (voorheen die Nasionale Pers), was Danie se treffende doek. Dié koerantleser het ook die inspirasie vir die voorblad van my nuwe koeranteboek, Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord, verskaf. Die ontwerp daarvan is deur Karen Cronje.
Sondag het Danie kom inloer om sy geskenkboek te ontvang en ‘n paar boeke vir my te teken. Meteens ontmoet ek toe die skilder EN die leser van die koerant in die skildery. Dit was toe altyd ‘n selfportret. Die ooreenkoms is omiskenbaar. Dit tref jou dadelik.
Oor die skildery vertel Danie – leerling van die Hoërskool Duineveld op Upington wat na Bloemfontein gekom het om Beeldende Kuns te bestudeer – ‘n fassinerende storie.

Danie teken sy naam by ‘n foto van sy skildery.
Aan die einde van sy tweede jaar as B. Tech-student aan die destydse Technikon Vrystaat – nou die Sentrale Universiteit van Tegnologie – was die werkopdrag vir die eksamen ‘n selfportret wat iets van die kunstenaar verklap. Vir Danie het ‘n koerant altyd visuele trefkrag gehad. Dit bied ook ‘n skans waaragter ‘n mens kan skuil as jy oogkontak wil vermy, byvoorbeeld op Londen se moltreine waar die pendelaars ingery sit en koerant lees. Hy het nie twee keer oor ‘n simbool nie.
Hy skilder hom toe agter ‘n Volksbladwaarin hy oor homself lees. Die opskrif, “DM vat hande teen rassisme”, slaan byvoorbeeld op ‘n gemeentelike inisiatief om rasseskanse af te breek. Hy het hom ten volle met die strewe vereenselwig. Ja, die DM in die opskrif staan vir Danie Marais!
Danie omring homself op sy skildery met mense van verskillende generasies, ook sy moeder en haar boesemvriendin. Dit dui op die tydloosheid van die koerant as draer van nuus.
Die voorbladfoto op sy verbeelde koerant is van ‘n werklike gebeurtenis in New York waarvan die koerantfoto’s hom aangegryp het. Dit is van ‘n valskerm wat sambreel maak oor die Vryheidstandbeeld (Statute of Liberty) by New York nadat die toue van ‘n Franse valskerm-swewer se tuig aan die fakkel verstrik geraak het in Augustus 2001. Danie loop met die video op sy selfoon. Die YouTube-skakel is
https://www.youtube.com/watch?v=FbR94tIJSco

Ou koerantberigte.

Danie, Marie (met aksent op e), Karlo (6) en Luka (5) op ons stoep.
Wyle Andy Galloway, ‘n redaksielid van Volksblad,wat ook ‘n skilder was, het van Danie se koerantskildery te hore gekom en die wenk is Kaap toe aangegee dat dit nogal ‘n netjiese jubileumgeskenk kan wees. Daaroor het almal saamgestem. Die Nasionale Pers het dit vir R7 500 – ‘n klomp sakgeld vir ‘n student! – by Danie gekoop. Op ‘n swierige dinee in Oliewenhuis ter viering van Volksblad se eeufees is die skildery deur mnr. Ton Vosloo, voorsitter van die direksie, aan die koerant oorhandig.
Op soek na ‘n voorblad vir Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord het ek, wat die aand as ‘n oud-redakteur by die dinee ‘n gas was, gelukkig van die mooi skildery onthou. Danie is genader en hy was dadelik vuur en vlam.