Sy het ‘n generasie jong Afrikaanse vroue leer lees; meer as 40 boeke geskryf; tot vier boeke per jaar neergepen (lank voor rekenaars); onder ‘n rits skuilname (ook mansname) geskryf; vir die tydskrif Sarie Marais se eerste vervolgverhaal gesorg en in ’n stadium vervolgverhale in twee tydskrifte gelyktydig behartig.
Tog lyk dit of E.J.M. Fraser in ons herinneringe aan vroeëre Afrikaanse skrywers nie die plek beklee wat sy ongetwyfeld verdien nie. Haar dogter Carol Smit (90), weduwee van die bekende onkoloog prof. Ben Smit, woon op Melkbosstrand. Sy kan boeiend en met verstaanbare bewondering oor haar ma se skryfwerk praat.
Eleanor Fraser, ‘n nooi van McGregor, by Robertson, het haar hoofsaaklik toegespits op liefdesverhale, soms gemeng met ’n goeie skeut spanning, aksie en intrige. Daarmee wou sy jong Afrikaanse meisies aan die lees kry. Sy was bekommerd dat hulle ná die depressie as ‘n generasie nie-lesers grootword.
In die twee dekades tussen 1940 en 1960 het sy meer as 40 boeke die lig laat sien, meesal onder haar eie naam, maar ook onder verskeie skuilname waaronder die mans- of neutrale name Okkert Bosman en P.J. Rademeyer. Haar getroude van was Rautenbach (haar man was John William Rautenbach) en sy het die naam ook ‘n keer of wat in haar skryfwerk gebruik.
Met titels soos Die liefde van Karolien Wiese en Die huwelik van Elsa Martyn hoef ‘n mens nie te raai oor die aard van die betrokke verhale nie. In van haar boeke het spanning egter romanse as hooftema verdring. Vir die doel het sy die skuilname Okkert Bosman en PJ Rademeyer ingespan. As ek so na Carol luister, klink dit of veral “Bosman” se Tamboer van die dood die skryfster nogal na aan die hart gelê het.
Sy het ook kinder- en jeugverhale geskryf. Die jeugverhaal Kinders van die grens is ook in Engels uitgegee as Children of the border. Waarskynlik was sy self vir die Engelse weergawe verantwoordelik, want oor haar ma se voortreflike tweetaligheid kan Carol, wat Engels geörienteer is, liries raak.
In besonder vrugbare jare in die middel 50’s het tot vier boeke van haar per jaar verskyn.
Sy was ook ‘n kampioen van vervolgverhaalskrywers in tydskrifte, en word onthou as die skrywer van die heel eerste vervolgverhaal in Sarie Marais, moeder van die vrouetydskrif Sarie, wat op 6 Julie 1949, meer as 70 jaar gelede, verskyn het. Die titel was Die liefde bedek alles, hoop alles… (Ek het, terloops, op besoek aan Bloemfontein saam met my oom-hulle in Maitlandstaat vir ‘n sikspens (5c) een van die eerste Saries vir my ma gekoop. Daarin was ook verhale uit die penne van bekendes soos Tryna du Toit, Marie Linde, Louise Behrens en G. Sutherland, asook artikels deur Elsa Joubert en M.E.R.) Fraser het ook vir latere politikus Blaar Coetzee se tydskrif Fyn Goud ‘n vervolgverhaal geskryf.
Eleanor Johanna Moir Fraser is in 1902 op McGregor gebore. Haar pa, Walter Moir Fraser, was die skoolhoof. Haar moeder was Aletta Catharina Rousseau. Haar susters S.E. Fraser en A.C. Sparks het ook skryfsters geword.
Reeds in haar kinderjare het sy uitgeblink met stories vertel. Op skool in McGregor het sy as redakteur saam met ’n paar skoolmaats ’n skoolweekblad uitgegee. Vreemd genoeg is sy nie joernalistiek toe nie, maar het sy haar as onderwyseres bekwaam. Terwyl sy skoolhou, het sy geskryf en geskryf.
Sy is op 11 September 1971 op 69 op Uitenhage oorlede.
(Carol is self lief om jeugherinneringe op te teken. Dalk verras sy nog en loop op 90 of daarna in haar ma se voetspore. Dit sal wel in Engels wees.)