In 1988 met die Riaan Eksteen-debakel by die SAUK is ek uit meer as een oord vertroulik ingelig dat ek ‘n kandidaat vir die direkteur-generaalskap is. PW Botha wou my glo in daardie pos hê.  Koerante (o.a. eers Max du Preez se Vrye Weekblad en toe ook die Sunday Times, nogal op sy voorblad) ) het bespiegel die SAUK se nuwe baas gaan uit Bloemfontein kom.

Ek was toe 47 en reeds amper agt jaar in die redakteurstoel van Die Volksblad. Laat my maar bely dat my ego nie verhewe was bo vatbaarheid vir streling nie.  Was nie onaangenaam vir die in-murg-en-been-koerantman om self die onderwerp van koerantstories te word nie. Die Sunday Times, onthou ek, het my op ‘n Saterdag by my huis in die woonbuurt Dan Pienaar gebel om kommentaar. Ek het dit geniet om in my beste Engels jakkalsdraaie te gooi: “Nee, ek het nog geen formele werksaanbod ontvang nie. Ja, ek sal dit oorweeg, maar ek is gelukkig as koerantredakteur en sal nie goedsmoeds so ‘n sprong waag nie.”

Een middag het ek en my vrou, Tokkie, op besoek aan die Rand in my nuwe donkergrys Mercedes 230E  –  ‘n 1988-model met die registrasienommer OB 7725 – om en om die Uitsaaisentrum in Aucklandpark gery – dis ‘n enorme plek. My keel wou-wou toetrek by die gedagte dat ek oor daardie omvangryke koninkryk die septer sou moes swaai

De M-Net-era was in die weer.  Toenadering tussen die Nasionale Pers en die SAUK op daardie tydstip sou nie vir die Pers ongeleë wees nie. Met die goedkeurende medewete van Ton Vosloo is ek na Pretoria om by sy huis in Pretoria-Oos ‘n vertroulike onderhoud met die voorsitter van die SAUK, Brand Fourie, direkteur-generaal van buitelandse sake, te gaan voer.

Dit was lannk voor die era van GPS, Google Maps en sulke nuttige hulpmiddels en die Vrystater het reddeloos tussen die Garsfonteins, Faerie Glens, Waterkloofs, Menloparks en Lynnwood Rifs met hul herehuise verdwaal.   Toe ek – heelwat laat vir die afspraak –by die Fouriewoning opdaag, was ek taamlik ontsenu en gespanne.

Aan Fourie se sy was ‘n mede-raadslid, JA (Koos) van Zyl, oud-kapelaan-generaal van die SA Weermag. Fourie het die sessie gelei en Van Zyl het net af en toe instemmend sy kop geknik. Die onderhoud was geen triomf vir die kandidaat vir die hoë pos nie.  Op ‘n vraag oor die toekoms van die SAUK-nuuskantoor het ek, na ek later verneem het, my voet in ‘n ding gesit deur onwyslik te volhard dat ek Sakkie Burger met die taak sou toevertrou.  My vriend Sakkie, ‘n senior in die nuusafdeling, was toe erg omstrede, veral by PW Botha! Was glo te danig met die KP in ‘n TV-onderhoud.

Miskien was Fourie en Van Zyl nie oortuig dat ek nie in die doolgange van Uitsaaisentrum sou verdwaal soos ek in Pretoria-Oos verdwaal het nie, maar die aanbod het nooit gekom nie.  Wynand Harmse is intern tot die direkteur-generaalskap bevorder. Ook maar goed so. Ek dink ek sou maar gesukkel het.

Van Deventer is wel –  ná die eerste raadsvergadering met Harmse in die stoel – die pos van nuushoof aangebied. Weer met Ton Vosloo se medewete is ek vir ‘n tweede onderhoud – hierdie keer openlik in Aucklandpark.

Die onderhoud was ten minste nie vervelig nie.  Die groot vraag: Het die hoof van die nuus die finale seggenskap oor wat uitgesaai word of nie?  Hieroor wou ek absolute duidelikheid hê. Die antwoord was nee, daardie diskresie berus by die direkteur-generaal. Met ander woorde, het ek teruggekap, as dié hom laat manipuleer, is die arme nuushoof aan wie ook al uitgelewer.

My ferme afwysing van so ‘n hiërargie is met verbasing begroet – asook my mededeling dat die Nasionale Pers se redakteurs wel daardie soort outonomie geniet waarop ek aandring.

“Bedoel jy Ton Vosloo gee nie vir julle opdragte nie?”

“Ja, dit is presies wat ek bedoel.”

Die onderhoud is weer nie met welslae bekroon nie. Later is ek, waarskynlik op aandrang van ‘n vriend, Colin Hickling van Bloemfontein, wat ook ‘n raadslid was, tog genooi om weer te kom praat.  Die antwoord was oombliklik: Dankie, maar nee dankie.  Liewer nie. Ek was nooit spyt nie.

In 1992 het ek toe wel die redakteursmantel afgewerp toe ek op uitnodiging van Ton Vosloo Kaap toe gekom het in die nuwe pos: uitvoerende hoof van koerante van die Nasionale Pers. Dit is die  pos wat ek tot met my aftrede in 1997 beklee het.

Kort ná aanvaarding in 1992 het Roelf Meyer, Minister van Inligting, Vosloo kom besoek.  Hy was op soek na ‘n direkteur-generaal vir die departement.  Die man wat hy teiken, is Hennie van Deventer. Ek was skepties. Terwyl die bal rondgeskop is, was ek en Meyer een aand saam in die kantoor van Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie, in Pretoria waar hy my probeer oortuig het welke geleentheid tot diens aan volk en vaderland dit behels.

Gelukkig het Vosloo die besluit uit my hande geneem. Hy is jammer, het hy aan Meyer geskryf, maar Van Deventer het pas ‘n nuwe pos in die maatskappy opgeneem, en dit is nie geleë om sy hande los te maak nie. In die lig van latere politieke gebeure was dit ‘n redding. Ek is Vosloo tot vandag toe dankbaar.

Naskrif:  Hoekom ek die storie nou vertel? Eenvoudig omdat dit nog nooit volledig vertel is nie, ook nie in my nuwe boek, Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord – ‘n Joernaal van scoops en skandes, wat oor ‘n week of wat, ook met ‘n hele afdeling vol radiostories, by Naledi verskyn nie.  En nog ‘n boek sal daar nie wees nie.

Deel dit: