
25 jaar afgetree, 25 jaar op Melkbos, 25 jaar in Sabiepark. Die eerste twee bakens is reeds bereik en paslik gevier. Op 15 Maart kom baken drie. Ons vertrek reeds op 6 Maart Mpumalanga toe om dinge te gaan regkry vir ‘n feestelikheid waarvan ek later meer gaan verklap.
In 2011 het ek ‘n boek geskryf: Duisend dae langs die Sabie. In 2023 sou dit seker al Tweeduisend Dae langs die Sabie wees. Waarskynlik meer. Dit is dae wat ek in welbehae in herinnering roep. Hoe lief het ek en Tokkie nie die plek nie!
Hoekom dan? Omdat mens en natuur kwalik intiemer skouer kan skuur as hier in ons bostoevlug aan die Sabie op die drumpel van die Krugerwildtuin – waar diere onbelemmerd tussen woonhuise rondloop en ‘n luiperd op jou stoep selfs nie vergesog is nie. Hier is die mense so vry soos die diere. Ons stap houtgerus (nie altyd só houtgerus nie!) in die strate met hul inheemse boomname. Saans sit ons om ons kampvuurtjies as’t ware in die oop veld.
Sabiepark se wildrykdom behels rofweg 17 groot soogdierspeseis, 25 kleiner spesies, sowat 320 soorte voëls en 34 soorte reptiele. Die mense-element bestaan uit 388 eienaars plus hul mede-eienaars en naastes. Die personeel-komplement is 45. Eienaars kom en gaan vir korter of langer vakansies en naweke. Wanneer die park regtig vol is, sit sowat 500 siele saans om hul vuurtjies.
Die private piekniekplek (net vir eienaars en hul gaste saam met hulle) is die hart van die park. Dit spog met ‘n onbelemmerde 180-grade-uitsig vir kilometers lank op wildtuingebied aan die S3-rivierpad. ‘n Mens kan maklik leeu, olifant en buffel een dag sien; luiperd en renoster die volgende. Al die “Vyf Grotes” – meesal darem op die oorkantste oewer. Soms van naderby aan die “verkeerde kant”, veral nuuskierige olifante. Van so ‘n saamwonery kom “insidente” – van konfrontasie tot koestering.
As ek die herinneringe van 25 jaar begin opstapel, is dit veels te veel vir een skrywe. Daar is die nagapies wat elke aand kom pret maak op die stoep, Witnek die duiker met wie ons lank in ‘n verhouding was, die olifante wat in troppe teen die grensdraad opduik, die hiënas in ons watergat, kameelperde by die swembad, sebras, vlakvarke, likkewane, stoute bobbejane … die lys is lank.
In die volgende dae gaan ek allerlei herinneringe deel. Maar kom ek begin met die luiperds. Op hierdie sierlike roofdiere drink ek graag vandag ‘n heildronk van Wild Africalikeur vir al die vreugdes van onverwagte ontmoetings wat ons al in Sabiepark met hulle had.
Van een hang ‘n groot foto agter dowwe glas prominent op ons stoep. Dis nie een van my eie foto’s nie. Wel ‘n foto deur ‘n mede-Sabieparker, Caroline Pols-Dijkstra van Heerhugowaarden in Nederland, geneem op 19 Maart 2015 terwyl ons 2 000 km ver op Melkbos sit. ‘n Foto soos geen ander in my albums nie: ons eie luiperd op ons eie stoep!
Caroline en haar man, wyle Gert, het soos die gebruik by vriende is, gaan kyk of alles pluis is by die Van Deventers se huis. Net toe sy by hul voertuig wil uitklim, sien hy die stertjie by die voordeur piets. Die volgende oomblik kom die luiperd orent. Sy staan voor die Polse in haar volle glorie, netjies geraam tussen die ingeboude braai en ‘n hoekpilaar van die grasdak.
“Ek is bewend van opgewondenheid, stomgeslaan, oorstelp – en dêm dankbaar dat jy op die regte oomblik op die regte plek was met ‘n stewige vinger op die sluiter,” het ek in antwoord op haar foto’s vir Caroline ge-e-pos. Vandag dink ek steeds dis dalk die Sabiepark-moment wat ten beste ons 25 jaar se verbintenis defniëer. Ek plaas dit graag weer.