Afskeid van Wiets Beukes, maar ook afskeid aan sulke afskeide.

Soos ‘n mens ouer word, word onder al hoe meer aktiwiteite ‘n streep getrek.  Óf jy trek dit self óf dit word vir jou getrek. So is dit nou een maal.

Omdat ek van mense hou en lief is om goeie eienskappe in ander raak te sien en uit te lig, was ‘n aktiwiteit wat tot my oudag vir my ‘n vreugde gebly het, om huldeblyke te lewer by die laaste groet van mense na aan my.

Tien dae gelede was dit my voorreg om by die huldigingsdiens van ‘n dierbare kollega en vriend, Wiets Beukes, oud-redakteur van Die Burger, oor hom te praat.  Eers daarna het die besef deurgedring dat die tyd om nog ‘n streep te trek, vir my aangebreek het. Op 82 raak die staan ‘n probleem.  Gelukkig kan my vingers darem nog tik.

Wiets was die eerste Volksblad-mens wat ek teengekom het toe ek in 1958 in Bloemfontein aankom vir my eerste vakansiewerk as beurshouer. Om 65 jaar later so van die mentor afskeid te kon neem, en ook van ‘n taak wat vir my nog altyd vervullend was, was ‘n voorreg.

By die trek van die streep het ek ‘n lysie gemaak van mense oor wie ek by hul dood in die geleentheid gestel is en bevooreg was om herinneringe te deel.

Dit sluit in naaste familie soos my ma, Baby, wat haar man, Seun, verloor het toe sy 26 en ek vyf jaar oud was. Sy wou nooit motor bestuur nie. Ons blou Hillman Minxie, ‘n 1942-model, is dadelik verkoop, en van my vroegste herinneringe van haar is op haar fiets Kimberley se sentrale toe waar sy danksy haar bekwaamheid gou ‘n “soeperwaaiser” geword het.

Pa Seun is dood. Klein Hennie en ma Baby wat in die sentrale moes gaan werk.

Ook joviale Pa Malan wat op 10 in my lewe gekom het en by wie se dood ek soos oor my eie trane gestort het, en my lewensblye swaer Fanie van Wyk, Tokkie se ouer broer, op sy dag SA kampioen in die 440 vir onder 19’s.  Op Harrismith waar hy skoolhoof was, was Fanie baie geliefd. Trouens, waar was hy nie?

Ander kollegas, buiten Wiets, was nog twee Vrystaters, Piet Gouws wat van Verkeerdevlei gekom het en die “klein generaaltjie” Nancy Oosthuysen van Hoopstad: twee kranige Volksbladders.  Piet – die liewe ou Piet – het ook by Beeld diep spore getrap.

Studentemaats was IB Badenhorst en Nic Boje, ‘n ware jintelman en puik losskakel met ‘n giftige skopskoen wat vir Noord-Transvaal en die Vrystaat ‘n wedstrydwenner was. IB se dood in ‘n motorongeluk was in my jaar as voorsitter van Kollegetehuis. Sy begrafnis was my vuurdoop.

Bure was Toy Vermeulen, benoemde LV en verbete ABO-versamelaar, wat in Bloemfontein in ‘n droogte vir my sy boorgat “geleen” het (danksy ‘n tuinslang oor die straat in die nagtelike ure) en Stokkies Stockenstrom van Welgemoed wat my bas moes red toe ek een oggend vroeg op ‘n vliegtuig Bloemfontein toe klim met my besproeiing volstoom aan – en dit in ‘n tyd van waterbeperkings.

Toy was een van twee politici op die lys. Die ander was dr. WD Kotze, LV vir Odendaalsrus en later ambassadeur in Bophuthatswana.  Hy was ook die skrywer van ‘n rits boeke oor die Kalahari, onder andere Kalaharikind.  Ná aftrede het hy ‘n bekende in Seepunt geword waar hy op die promenade gratis Bybels uitgedeel het.

Een van die vroue aan wie ek hulde kon betuig, was mev. Dalene Mouton, eggenote van prof. Wynand Mouton, wat rektor van die Vrystaatse Universiteit en voorsitter van die SAUK-raad was. Watter Afrikaner-adel was die twee nie.  Met die dood van prof. Mouton enkele maande later was ek ongelukkig in Sabiepark.  Anders sou hulle die eerste egpaar op my lysie gewees het.

‘n Egpaar het wel later gevolg:  Hennie Jonker, afgetrede mynbestuurder, en sy vrou, Magriet. Ons paaie het op Melkbos gekruis. Hennie was die eerste voorsitter van die Probusklub – ‘n kameraadskaplike sosiale klub vir afgetredenes – waarvan ek nou al meer as 20 jaar lid is. Magriet was ‘n gasvrou soos min.

Ander Probuslede by wie se afskeid ek die rede kon voer, was die wellewende Sakkie Bruwer, op sy dag braaikoning van Melkbos en rugbyliefhebber soos ek nie voorheen raakgeloop het nie, en Johan Rossouw, veteraan-veiligheidspolisieman in verskeie ambassades, ‘n man so solied soos ’n klipmuur.

‘n Tweede eggenote van ‘n Probuslid, naas Magriet Jonker, was Esbé Krynauw, vrou van Danie en oud-skoolhoof. Hulle was lank burgemeesterspaar van Milnerton voordat hulle op Melkbos kom aftree het.  Sy was oor taal so gesteld soos ekself.

‘n Melkbosser van faam was Jan Dreyer, broer van my eerste baas by Die Volksblad, Hugo Dreyer, en lid van die Dreyerdinastie waarvan jy oral in onder meer straatname spore op Melkbos aantref.  Hy het op 90 nog tennis gespeel – het ‘n raket verkies bo ‘n kierie.

Vir ds. Ockie Raubenheimer, ‘n sieraad van ‘n mens, het ek in die kerk op Melkbos leer ken. Hy was elke Sondag op sy pos, al het hy in Parklands gewoon. Hy was veral bekend en geliefd as oud-leraar van die Londense gemeente van die NG kerk. By sy troosdiens – en ook in ‘n huldigingsartikel in Rapport  – het ek hom die eretitel van Afrikaanse Paulus gegee op grond van sy baanbrekersreise in dosyne lande om die Woord te verkondig.

Al hierdie mense het tot my lewe waarde toegevoeg. Ek is dankbaar en eer hul almal se nalatenskap. Dit kry ek graag van die hart.

 

 

Deel dit: