
Oor die Van Deventers se sentimentele band met die MSC Sinfonia wil ek ‘n uitgebreider en korrekter weergawe as die vorige plaas.
Vir eers het my rekenkunde my in die steek gelaat. Daar was vier vaarte met die Sinfonia, nie drie nie. (Met die Opera was daar twee en met die Musica, die Queen Mary II, die Oceanos – wat aan die Wildekus ’n watergraf gevind het – die Constellation en die Pendennis Castle een elk )
Ten tweede het ek nagelaat om ‘n belangrike gesinsaspek uit te lig: dat ek en Tokkie op die Sinfonia gevaar het saam met albei vertakkings, die Claassensgesin van Welgemoed en die Van Deventers van George.
Op die Sinfonia se eerste vaart in SA waters in November 2009 was ons en ons eerste kleinkinders, die tweeling Jacob en Thomas Claassens, van die eerste passasiers wat in Kaapstad aan boord gegaan het. Hulle was toe vier. Die vaart na Durban was ‘n fees. Ek het toe reeds geskryf: “Die driemanskap Jacob, Thomas en die Sinfonia was ‘n wenkombinasie, Dit het ons elke oomblik laat voel dat die ondermaanse ‘n salige plek is om te vertoef ”.
In 2014 was ons saam met die hele Claassensgesin aan boord op wat toe ná vyf seisoene en 150 vaarte die laaste siens van die geliefde skip in SA waters sou wees. Ons wou ordentlik van die skip afskeid neem. Ons jongste kleinseun, Christopher, was in die kajuit saam met oupa en ouma op ‘n sogenaamde vaart na nérens (wat ek, terloops, nie aanbeveel vir mense wat rustigheid soek nie). Toe ons voet op vaste bodem sit, het ons ‘n groot banier aan die loopplank bemerk:”Goodbye Cape Town”. Die skip is daarna na Palermo waar ‘n nuwe middelstuk ingevoeg is. Volgens MSC sou dit voortaan op ander roetes aangewend word.
Die “nuwe” Sinfonia het egter, verrassend, weer na Suid-Afrika gekom. In April 2017 was my en Tokkie se eerste afspraak met “ons skip” in sy nuwe groter en deftiger gedaante. Balkonkajuite is o.m. bygevoeg. Die vaart was na Walvisbaai. Dit het sommer ‘n laat viering van ons goue bruilof op 31 Desember 2016 geword, en MSC het ‘n komplimentêre bottel Moët et Chandon vir die doel geskenk.

Pas was ons vierde en laaste vaart – weer na Walvisbaai. Dit was ons eerste kennismaking met ‘n balkonkajuit, wat net ‘n vreugde is. Ai, as die ou man net nie so oud was nie … Johan en Mariza van Deventer was hierdie keer saam. Vaar op die Sinfonia het daarmee ‘n familieding geword. Die simfonie van die Sinfonia in die lewe van die Van Deventers was voltooi.
Nou is dit waarlik ‘n “Time to say goodbye” soos Andrea Bocelli en Sarah Brightman so gevoelvol gesing het elke keer as ons uit ‘n hawe vaar.
Naskrif: Een foto is erg oorbelig, ek weet. Dit is egter die enigste foto van my en Tokkie en die Sinfonia saam.