Die gasverwoesting op Boksburg herinner aan die geweldige ontploffing van ‘n dinamiettrein van altesaam 42 trokke – die langste dinamiettrein ter wêreld in daardie stadium – 90 jaar gelede, op 17 Julie 1932, op die plaas Louwpan net buite Leeudoringstad (Leeudoornstad) in die ou Wes-Transvaal. Van die 42 waens was 31 gelaai met 320 ton dinamiet, bestem vir die goudmyne in Johannesburg. Op die res was kunsmis en appels.
Vyf mense en hope plaasdiere is gedood en amper elke huis op die klein dorpie is in die reuse-ontploffing beskadig. Die hele trein en sy dodelike vrag is verwoes en die toneel was agterna soos ‘n slagveld wat deur bomme uitmekaar geruk is (foto). Wat nogal aan die Boksburg-treurspel herinner, is dat vier onbetrokke mense in ‘n plaashuis 150 meter van die spoor omgekom het. Die vyfde was die kondukteur, ene Sarel van Wyk, wat in die kondukteurswa geslaap het. Van hom het min oorgebly.
Die treindrywer, Andries Cornelius Gouws, en die stoker, Carl Otte, het wonderbaarlik oorleef – soos die vragmotorbestuurder op Boksburg. Gouws het homself agterna beskryf as die gelukkigste mens op aarde. Hy kon dit weer sê. Otte het oomblikke voor die eerste van ‘n reeks ontploffings vir hom gesê hy sien stof of rook onder een van die waens uitborrel. Gouws het die trein toe tot stilstand gebring om te gaan ondersoek instel. Net toe dreun die eerste knal. Toe die tweede ….
Die eienaars van die plaas Louwpan was oom Stoffel en tannie Lettie Strydom. Hulle het daar gewoon met hul destyds ongetroude seun en dogter Johannes en Anna, hulle dogter en skoonseun, Danie en Mienie Myburgh, en dié se kinders, Willie (14), Aletta (11) en Gideon (4). Dit is nie duidelik wie dood is en wie oorleef het of hoe hulle oorleef het nie. Die Myburgh-gesin is klaarblyklik swaar getref. Van die plaashuis en -diere op Louwpan het min oorgebly.
Blykbaar het ‘n brand in ‘n sogenaamde “hotbox” (smeringkas) onder die voorste as van die tweede dinamiettrok ontstaan. Ongeveer 1½ km buite Leeudoringstad het die brand die dinamiet bereik, en ‘n verskriklike ontploffing sou weldra die rustige landelike omgewing en die dorpie skud. Gelukkig het die drywer die onheilstrein buite die dorp tot stilstand gebring. Andersins was die verwoesting dalk veel erger.
NASKRIF: Suid-Afrika se noodlottigste dinamietontploffing was op 19 Februarie 1896 op die stasie Braamfontein in Johannesburg. Meer as 70 mense is gedood en 200 beseer toe 60 ton dinamiet op agt trokke ontplof het. ‘n Krater van 60 meter lank, 50 meter wyd en agt meter diep is uit die aarde geruk. Skade is in woonbuurte so ver soos Fordsburg aangerig en sowat 3 000 mense was dakloos. Die ontploffing is tot 120 kilometer ver gehoor.
Deel dit: