
Naspers-topbestuur op Melkbos se stoep.
‘n Kwarteeu lank is my adres nou Penguin Place 11, Melkbosstrand – die Van Deventers se plek van melk(-bos) en heuning met Tafelberg, ‘n grou kolos, aan die suidekant; die Atlantiese Oseaan in sy wisselende stemminge wydgestrek voor ons; Robbeneiland net ‘n hanetreetjie weg. Op ons bankie langs die water beleef ons saans, wyntjie in die hand, die skilderagtigste sonsondergange.
In Maart 2023 verskuif ons na Sabiepark vir plus-minus ons 50ste besoek aan ons bosparadys aan die Sabierivier, net twee kilometer van die Krugerhek van die Wildtuin, waar wilde diere ons bure is en ‘n vuurtjie elke aand brand. Ambisieuse planne word beraam om ons verbintenis van 25 jaar saam met vriende te vier.
Maar eers, vroeg in Januarie, bestyg ons die MSC Sinfonia vir ons 12de bootvaart, bestemming Walvisbaai. Die voriges sluit in ‘n vaart op die fabelagtige Queen Mary II na Sydney via Perth en Melbourne – loshande ons droomvaart; een na Venesië; een van Venesië terug Kaapstad toe via die Suezkanaal, en een tussen die Griekse eilande. Ons is lief vir die ontspanne lewenswyse ter see.

Vuurtjie in Sabiepark.
O, die salige niksdoen-bestaan van ‘n lid van die kieriekommando, soos Tukkiemaat Pierre le Roux by aftrede einde 1997 my nuwe status gedoop het. Dit was nogal profeties. My kierie is ‘n vername simbool van my huidige lewe, maar ook ‘n vername werktuig.
Selfs ‘n vernamer werktuig is my drarekenaar. Op hom gesels ek (veels te veel) op Facebook, hou ek my blog by www.hennievandeventer.co.za in stand, skryf ek briefies vir koerante oor alles onder die son – dosyne, dalk honderde al – en af en toe ‘n artikel. Van die briewe was die betekenisvolste sowat 10 om uit die staanspoor my ernstige bedenkinge oor die Bird Island-boek met sy skandelike duimsuigstories te opper.
Van die briewe was in al drie dagblaaie, Die Burger, Beeld en Volksblad. Van hulle was in Rapport. Al die koerante het my ruim geleentheid gegee om my saak te stel, vrae te vra en kritiek uit te spreek. Prominensie is aan die briewe verleen wat bo verwagting was. Ook op Netwerk24. Ek is dankbaar daaroor.
Beeld het een van my briewe geplaas met ‘n sterk verwysing daarna regs bo op die voorblad (foto). Reeds op 9 April 2019, 11 maande gelede, is ek toegelaat om te verklaar: “Vier, nee vyf, spykers is nou in die doodkis van die Bird Island-boek gekap”.

Op Beeld se voorblad.
Rapport het op 14 April ‘n brief van my geplaas onder die opskrif “Vrae en reaksie na berigte oor Bird-Island” waarin ek uitdruklik verklaar dat die geloofwaardigheid van die boek toe reeds “in vlamme afgeskiet” was. Aan die brief het hy sy apologie in sy kommentaarkolom op bladsy 2 vasgeknoop. Die opskrif was, sonder om doekies om te draai: “Bird Island: Ons het ‘n fout gemaak.” In die apologie is die kernswakheid van die boek in een sin kragtig saamgevat: “Vir geen van die skadelikste bewerings kon enige joernaliste bewyse vind wat onafhanklik geveriëer kon word nie”.
Daarop het die koerant sy lesers, Barend du Plessis en die naasbestaandes van Magnus Malan en John Wiley om verskoning gevra vir die onverdiende leed. Die merkwaardigheid van so ‘n aanvaarding van skuld en uitspreek van berou is waarskynlik nie oral na waarde geskat nie. My bydrae om dit op etiese gronde te help bewerkstellig, was vir my uiters bevredigend en dubbel en dwars die moeite werd. Daaroor is meer te lese op die webblad https://www.thelostboysofbirdisland.co.za
In die 25 jaar het ek so tussenin ook die getal boeke (boekies) uit my pen van drie tot 22 opgeskuif. Koerante, die bos, humor is die hooftemas. Nommer 23 kom hopelik in April. Weer koerantstories. ‘n Oop plekkie wag al op die boekrak in my studeerkamer.

Op ons bankie saam met die tweeling.
Gevorderdheid in jare kan die beste waargeneem word in vier dinge: ou hout om te brand, ou wyn om te drink, ou vriende om te vertrou en ou skrywers om te lees, het Francis Bacon verklaar. Ek kan nie hartliker saamstem nie.
Een van die durende genietinge van die aftreejare is die voorreg om saam met skoolmaats, studentemaats, kollegas en ander vriende, oud en nuut, te kuier, hetsy op Melkbos, in Sabiepark of waar ook. Reünies met o.a. 1957-matrieks van Volkies, Potch, mede-Kollegemanne op Tukkies, Volksbladders en Naspersers tel onder die gedenkwaardiges byeenkomste.
As John Vorster een waar ding in sy lewe gesê het, was dit oor klekinkinders: dat kleinkinders die Here se geskenk aan ou mense is. Ek en Tokkie is al 18 jaar lank oupa en ouma. Ons harte loop oor van dankbaarheid oor die seen en die lewensgenot van saam met die nasate lekker dinge te doen.
Onvermydelik kom ook teleurstellings en gebeur ook slegte dinge. Die algemene agteruitgang van koerante sluk ek maar swaar. Die besluit van Media24 in 2020 om my geliefde Volksblad se gedrukte uitgawe te staak, was vir my verpletterend.
Die stygende jare bring skete. Die Byl kap in jou bos. Jy treur oor heengegane vriende. Plek-plek verwyt jy jouself oor verlore geleenthede wat nooit weer sal opduik nie. Die geluk is dat jy ook verryk voel oor die voorreg om mense van sulke kaliber te kon ken.
Op 31 Desember is ek en Tokkie 56 jaar getroud. Op 3 Januarie word ek 82. Die meetsnoere het vir ons op lieflike plekke geval. Hoe “snood ondankbaar” sal ek nie wees nie as ek hierdie skrywe, en die reeksie oor 25 jaar van aftrede, nie met jubelende harp- en sitertone afsluit nie. Die genade is groot en onverdiend.
(SLOT)