Of ek graag Hoof van Koerante sou wou word, is ‘n vraag wat nooit by my opgekom het nie. Dit was Ton Vosloo se idee. Hy wat self ‘n redakteur was, het daarvan gehou om redakteurs in bestuursposisies om hom te versamel, en Engelse perskollegas het die tradisie as een van die redes vir die ou Naspers se welslae beskou.
Ek meen self nie dat ek ‘n wafferse bestuurder geword het nie. Balansstate en daardie klas ding was nooit my kos nie en die vrees dat ‘n direkteur of sakejoernalis my ‘n finansiele strikvraag kan vra, was immer teenwoordig. Vir die nuwe roetine en dissiplines: state, begrotings, direksieverslae, komiteevergaderings – alles ver verwyder van die daaglikse dinamiek van koerant-uitgee en die vloei van adrenalien in ‘n redaksie – het ek nooit lief geraak nie.
Nietemin: wysneuse in die advertensiewese wat Afrikaanse koerante prematuur wou begrawe, moes in die era nogal op hul neuse kyk. ‘n Vreugde gewees om hulle een aand so te kon aanspreek: “Vir die doemprofete sê ek vanaand: trek uit u begrafnisklere; gooi weg u kransies; laat die vonkelwynproppe klap dat ons kan fees vier!” Ek kon die aand aankondig dat die gesamentlike geouditeerde lesertal van die drie Afrikaanse dagblaaie pas deur die miljoenkerf gebreek het. Ja, julle lees volkome reg: ‘n een en ses nulle
Koerante het in daardie vyf jaar ook met hul geldsake na bo gestuwe het as bekerbekroonde presteerder in die Naspers-portefeulje. Dit was egter nie die produk van een man se versiendheid, leierskap of goeie besluite nie; eerder weens hul onverbloemde Afrikaansheid waaromheen lesers gretig herkonsolideer het; ook oor hul vinger op die pols van die gemeenskap, die toevoeging van waarde vir die lesers, die kwaliteit van die produk. Daar was voorts ‘n span besielde kollegas wat berge versit het om die sektor op verskeie terreine uit te bou. Ek was maar net ‘n bevoorregte medereisiger op daardie opwindende pad; des te meer bevoorreg om daarvoor met die Pers se gesogte Phil Weberprys beloon te word.
Maar watter boeiende, uiteindelik hoogs verrykende leerskool het die 18de van die Perssentrum verdieping nie tog wel geword nie; die nabyheid aan die vuur in ‘n goue era van die Pers waarin baken op baken geplant is, met skitterhoogtepunte soos notering – ‘n tyd waarin die Pers nie net die voorste persgroep in die land nie, maar volgens niemand minder nie as die Sanlam-voorsitter, Marinus Daling, in ‘n rede by die jaarvergadering in 1996, toe reeds ‘n “wêreldklas-organisasie” geword het.
Om op Maandag 12 September 1994 op die vloer van die Johannesburgse Effektebeurs te wees toe Naspers geroep word en agterna ‘n vonkelwyntjie te klink (foto) op ‘n openingsprys van R21 (!) was ‘n belewenis wat ek amper 30 jaar later op my oudag bly troetel. Ek en wyle kollegas Salie de Swardt, Hoof van Tydskrifte, en Andrew Marais, Hoof van Openbare Skakeling, het daardie middag in die Boeing op pad terug Kaap toe nog heildronk op heildronk gedrink.
Uit die bestuursera dateer ook ‘n spotprent wat in Rapport was. Dit is ‘n meesterlike uitbeelding deur Lou Henning van die SAUK se Chris Louw (ook ‘n wyle) wat ‘n verbaasde Van Deventer op die program Monitor verskreeu (foto). Wat Louw so intens irriteer het, was my persoonlike voorlegging aan die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK). Ek betoog daarin dat Afrikaanse koerante niks het om verskoning oor te vra nie. Hulle het, trouens, in die voorste loopgrawe gestry om teen die sin van ‘n groot gros lesers in die saak van hervorming volhardend te dien.
Louw het dit as ‘n “romantisering” afgemaak en so emosioneel geraak dat hy amper in trane uitgebars het. Die telefoononderhoud het in ‘n kwaai skermutseling ontaard: hy in Aucklandpark, Johannesburg, en ek op Melkbos. Albei briesend. Die Jong Turke van die Pers wat opsluit self by die WVK gaan boete doen het, sou gewis in hierdie episode nader aan Louw gevoel het as aan Van Deventer. Daardie klein paleisrevolusie was nie vir my aangenaam nie, maar het my baie geleer van die onvermydelike opvolging van generasies.
Wat opvolging betref: My koerantwêreld waarin ek my tande geslyp het, was een van warm lood, matryse, teleksmasjiene, perstelegramme en landlyne. Nou het die elektronika oorgeneem: oral in die produksieproses, selfs in die versending van hele koerantblaaie heen en weer oor die lengte en die breedte van die land. Die nuwe ontwikkeling het my eers laat sidder vir die onbekende, maar mettertyd al hoe meer geboei en betower.
Saam met die betowering het die besef deurgedring dat ‘n nuwe fase aanbreek. Vir die fase had ek nie die broodnodige toerusting nie: tegnies en emosioneel. ‘n Nuwe geslag sou moes oorneem om die koerant as ‘t ware te herskep vir langtermyn-oorlewing in ‘n media-omgewing waarin die mededinging ongetwyfeld al hoe moordender sou word.
Op ‘n dag is aangekondig dat ek einde Februarie 1998 op eie versoek sou uittree en deur Jan Malherbe, noordelike Hoofbestuurder van Koerante, opgevolg sou word. Francesco, die witgesig-nar, met wie ek 20 jaar tevore ‘n onderhoud gevoer het vir die rubriek Onder Vier Oe in Beeld, bel toe uit die bloute en sê: “Jy’s mos te jonk om af te tree!”
Die liewe Francesco was verkeerd. My besluit om op ouderdom 57 vroeg uit te span, was op presies die regte oomblik geneem – een van die beste besluite van my lewe!