Wanneer iemand van die statuur en charisma van koningin Elizabeth II sterf, hoef koerante wêreldwyd nie kop te krap oor ‘n hoofberig nie. Ander kere is die keuse soms ‘n tameletjie – veral in sogenaamde komkommertyd as nuus skaars is. Met koningin Elizabeth was die besluit vir die meeste vanselfsprekend, soos Die Burger se voorblad vandag weerspieël.
Die idioom van “een se dood is ‘n ander se brood” kom by ‘n mens op. In die koerantwêreld is dit bepaald ‘n onomstootlike waarheid. Sterftes van bekendes is nuus – groot nuus. Sterf twee bekendes in dieselfde tydgleuf, is die keuse watter een in die hantering voorrang moet kry. Oordele oor aanbieding verskil soms skerp, nie net van koerant tot koerant nie. Ook intern. Robuuste debatte word gevoer.
‘n Storie wat op die onderwerp nogal uit ‘n onverwagse hoek lig werp, het te make met die keuse van ‘n hoofberig (“lead story”) vir die eerste uitgawe van Amerika se eerste nasionale dagblad, “USA Today”, op 15 September 1982.
Bashir Gemayel, pasverkose president van Libanon, is vermoor, en by die koerant was die algemene verwagting van senior lede van die redaksie dat dit die hoofberig sou wees, soos dit wel van ander Amerikaanse oggendblaaie was.
Maar prinses Grace (Kelly) van Monaco is in ‘n motorongeluk gedood, en “USA Today” se redakteur, Al Neuharth, se instinkte het hom vertel dat dit vir die meeste Amerikaners die grootste nuus van die dag sal wees. Om sy teorie te toets, is hy na ‘n kroeg en ‘n politieke byeenkoms.
By albei plekke was die dood van prinses Grace op almal se lippe. Toe Neuharth die sluipmoord in Libanon meld, het mense hul skouers opgehaal. Die volgende oggend was “USA Today” se banieropskrif : “America’s Princess Grace dies in Monaco”. Gemayel se dood was op ‘n binneblad.