My paaie het met Wiets Beukes s’n gekruis toe ek einde 1958 in Bloemfontein aankom vir my eerste skof vakansiewerk by Die Volksblad. Hy was ‘n assistent-redakteur, en ook ‘n kranige tennisspeler.
Wiets was toe 31 en ek ‘n skamele 17; darem amper al 18. Al was hy reeds ‘n belangrike man het hy na die groen outjie van Tukkies af uitgereik.
More, Donderdag 25 Augustus, word Wiets 95 – die oudste lewende Nasperser. Hy vier die verjaardag op die plaas Groenweide by Franskraal, waar hy sedert Januarie 2021 by familie tuisgaan ná 16 jaar in Berghof in Oranjezicht, Kaapstad.
Die huis waarin hy met sy voltydse versorgers woon, is aan die voet van die Franskraalberg, omring deur ‘n lowergroen tuin, en kyk uit oor die wit strand en woelige branders van Uilenskraalmond. Hy vier sy 95ste dus in ‘n geliefde omgewing waar hy self ook ‘n vakansiehuis besit het waar kollegas wat tydgenote was, lekker saam met hom onder die melkhoutbome gekuier het.
‘n Hele 64 jaar het sedert ons kennismaking verloop. By sy verjaardag dink ek met vreugde terug aan ‘n verbintenis wat in my lewe groot waarde toegevoeg het. Hierdie gedugte joernalis was ‘n mentor in die joernalistiek, asook ‘n wyse ouer kollega en vriend.
Wiets se joernalistieke waardes was altyd ‘n baken, en sy swaargewig-bydraes tot die koerantwese bewonderenswaardig; ‘n ideaal om na te strewe.
Op hom het die mantel van Die Burger se redakteurskap geval nadat die formidabele Piet Cillié die pos ontruim het. Om so ‘n oorheersende figuur op te volg, verg hare op die tande. Wiets het rustig in die redakteurskantoor in Keeromstraat ingeskuif en in sy eie styl ‘n vername rol in die onstuimige Afrikanerpolitiek van die 80’s gespeel.
Naspers het hom met die Phil Webermedalje bekroon – die maatskappy se hoogste erkenning vir ‘n voortreflike loopbaan . Hy verdien in my oë om selfs deegliker onthou te word.
Sy reuse-bydrae as geskiedskrywer van die Pers met monumentale boeke soos “Oor grense heen” en “Boekewêreld” tot sy krediet behoort veral groter erkenning te kry, glo ek.
Op ‘n persoonlike vlak is ek dankbaar dat ek altyd met vrymoedigheid by Wiets kon aanklop as ‘n netelige kwessie opduik. Op sy gesonde oordeel, verstandige insigte en wyse adviese kon ek staatmaak.
Ook vir my gesin was hy ‘n rots – veral nadat ek in 1974 vooruit uit Bloemfontein weg is om nuusredakteur van die te stigte dagblad Beeld te word.
Ek wens ek kon op Franskraal vir Wiets ‘n handdruk gaan gee om hom op sy 95ste geluk te wens. Ek sou graag vir hom gaan vertel hoe ek hom respekteer en eer.
“Mens!” sou hy antwoord en vining die gesprek in ‘n ander rigting stuur. By al sy ander deugde is ook nog ‘n plat-op-die-aarde-beskeidenheid by hierdie koerante-sieraad teenwoordig.
Foto’s: Wiets in diepe gesprek met rubriekskrywer Johan van Wyk, saam met Willem Wepener, mede-Kovsie wat redakteur van Beeld was en adv. DP de Villiers. Die prentjie is deur Fred Mouton.