Goeie musiek het in my lewe gekom met die periodieke Plate-aande Saterdagaande in die skoolsaal van Potch-Volkies in die jare 50.  Dit was nie die gewildste aktiwiteit nie, want die skoolsaal se ligte het dwarsdeur bly brand, en selfs ‘n handjies-vashouery was uit. Van die snitte wat oor en oor gespeel is, is egter tot vandag toe gunstelinge.

Eers op Tukkies in die jare vyftig het ek met “U eie keuse” op die Afrikaanse Radiodiens (nou RSG) kennis gemaak, al was die versoekprogram al sedert 1945 (toe ek vier jaar oud was) op die lug. Op alleen-aande was die mooi musiek ‘n troos.

Die afgelope vyf dekades luister ek en Tokkie graag wanneer ons die kans het. In al die jare was gisteraand egter die eerste keer dat ons ingetrek is. Dierbare vriende, Theuns en Marian Otto van Parys, het gevra dat Gert Potgieter se “O Boereplaas” gespeel word en dat o.a. ons twee moet saamluister. Natuurlik het ons die ore gespits. Elk woord en elke stembuiging was spesiaal vir ons – so het dit gevoel.  Ons was half aangedaan.

Krane van herinnering is daarmee oopgedraai. Soos aan my Pa Malan se dood (my biologiese pa, Seun, is dood toe ek vyf was).

In April 1988 was Pa en Ma Malan vir oulaas by ons op Buffelsbaai waar ons vroeër altyd saam vakansie gehou het. Wat ek nie sal vergeet nie, is die laaste siens die aand op George se lughawe: hy, ’n uitgeteerde bondeltjie mens in ’n rolstoel op ’n windverwaaide laaiblad, wagtend om aan boord geplaas te word.

Die volgende ontmoeting was in die kankersaal van Pretoria se H.F. Verwoerd-hospitaal. Pa Malan was in ’n beswyming. Ek het die nag by hom gewaak en is in daardie eensame ure deur ’n diepe droefheid beetgepak. Ons het ’n lang pad saam afgelê.

Vroeër die aand het ’n pasiënt in die verste hoek sy radio op “U eie keuse” ingeskakel. Robert Young was die aanbieder. Dié verheffende musiek te midde van lyding was ontroerend. Ek kon nooit weer na daardie program luister sonder om daardie aand in die kankersaal in herinnering te roep nie. Vier dae later is Pa dood.

Van almal wat daardie aand in Saal 21 deur Young en sy musiek betower is (ook die bekende Oom Fasie van die TV-program “Nommer Asseblief”), is dit waarskynlik nog net ek en die verpleegsters wat in en uit is, wat in die lewe is – ’n ongemaklike gedagte.

In 1974 toe ek en Tokkie van Bloemfontein vir ses jaar Johannesburg toe is, het ek Kosie Jooste se huis in Randburg sterk oorweeg. Hy laat val toe hy het die eerste “U eie keuse” op 20 Oktober 1945 uitgesaai. Die man het in my estimasie gestyg, maar sy huis se pype het darem te erg gerammel as jy ‘n kraan oopdraai!

(Na Jooste, het verskeie aanbieders gevolg: Pieter Naudé, Jan Spies, Vincent Hesse, Hennie Pietersen, André Liebenberg, Frikkie Oosthuizen, Henk Bierman, Retief Uys, Anton Prinsloo, Robert Young, Wouter de Wet (ook tenniskommentator) en op die oomblik Willem Pelser.  s. Young is die vader van die gewilde “U eie keuse”-CD’s. Retief Uys was ‘n vriend uit die Bloemfonteindae. Malaria het sy lewe geëis.

Dankie, Theuns en Marian, vir ‘n ruimer belewenis as net die mooi lied so weergaloos deur Gert Pogieter voorgedra. Vir diegene wat nie gisteraand saamgeluister het nie –of wat weer wil luister – hier is die You Tube-skakel: https://www.youtube.com/watch?v=-E-bhyz-oJ0

Deel dit: