
‘n Engelse bulhond – let op die vabond se kenmerkende plat snoet.
Op ‘n storie van ‘n vabond-hond – ‘n Engelse bulhond, maaindjoe, nie ‘n boerboel nie – wat ‘n mooi jong vrou in Kaaptad op ‘n denkbeeldige pad tussen Johannesburg (haar kop) en Kaapstad (haar voete) “in die omgewing van Richmond” gebyt het, kan ek na ‘n diepte-ondersoek meer lig werp. Terselfdertyd kan ek spog met nuutverworwe regskennis oor die wetlike gevolge van honde-aggressie, ongeag die anatomiese geografie van die bytplek.
Die Richmond-storie kom oorspronklik van ‘n Melkbosse vriendin van Tokkie, Una Beukman, Ek het dit destyds dadelik op my Facebook-blad gedeel – Nagkantoor het nog nie bestaan nie. Die stomme slagoffer se pynlike verknorsing het heelwat reaksie uitgelok. Ander plekname vir die bytplek is sefs onsimpatiek voorgestel – soos Noupoort en ‘n paar ander wat ter wille van sensitiewe lesers èn leseresse) liefs verswyg word.
Die skerpsinnige verwysing na Richmond vir die plek waar die vabond, Daisy, haar tande ingeslaan het, kom van ‘n spitsvondige gewese buurman, wyle adv. Kosie Olivier, ‘n vroeë slagoffer van Covid. Die agtergrond van die 1989-hofsaak oor Daisy se vrypostigheid kry ek van sy seun, Johan, boer van Victoria-Wes. Dit is opgeteken in “Corresponding” met die “law”, ‘n humorboekie uit die hof deur oud-landdros Wessel Marais.
Die feite van die saak is korliks dat die eiser en die verweerder in dieselfde luukse-woonstelgebou in Clifton gewoon het. ‘n Hartlike verhouding het aanvanklik geheers, maar is later deur die een en ander versuur. Op ‘n dag los die inwoner van die dakwoonstel se Daisy ‘n onwelkome visitekaartjie reg voor die deur van die buurvrou in die woonstel onder haar. Die dame vervies haar, stoom verergd boontoe en eis dat die gemors dadelik opgeruim word.
Ná ‘n halfuur lê die steen des aanstoots egter steeds onaangeraak en onwelriekend voor haar deur. Nog meer verwoed as tevore stoom sy weer boontoe en pluk ‘n kombers van Daisy se rustende ounooi af om haar tot aksie aan te spoor. Daisy wat rustig voor die katel lệ en snork het, word gewek en gryp, erg gesteurd deur die onvriendelike daad, die aggressor met haar slagtande reg van voor op daardie strategiese sagte pekkie: ‘n kolskoot.
Buiten dat dit vrek seer en ‘n diepe verleentheid was en dat sy mediese behandeling vir die beskadigde sagte weefsel moes ontvang, was seks haar geruime tyd “nie beskore nie,” soos die landdros dit galant stel. Sy maak toe ‘n siviele saak (seker darem meer oor eersgenoemde as oor laasgenoemde) – en verloor dit in die Kaapse siviele hof. Dit is hier waar adv. Kosie in kruisverhoor met sy beroemde Richmond- vergelyking vorendag gekom het om die dame se privaatheid te respekteer. Dit is ook uit dié verrigtinge waar my nuutverworwe regskennis vandaan kom.
Dit blyk uit regsdokumente skadevergoeding vir pyn en lyding wat deur ‘n troeteldier veroorsaak is, kan wel in bepaalde omstandighede van jou verhaal word deur die actio de pauperie. Waarop dit neerkom, is dat die verweerder aanspreeklik sal wees vir skadevergoeding indien die klaer i. suksesvol kan bewys dat: hy/sy die eienaar van die dier was ten tye van die besering; ii. die dier ‘n huisdier is; iii. die dier strydig strydig met die natuurlike aard van ‘n huisdier opgetree het (die naturem sui generis); en iv. die dier se optrede die klaer se skade veroorsaak het.
In hierdie geval het die landdros bevind dat Daisy maar net opgetree het soos wat ‘n mens verwag Engelse bulhonde in sulke uittartende omstandighede sal optree – dws naturem sui generis. Daar trek die veronregte dame se saak toe by die venster uit – ‘n klassieke geval van sout in die wonde vryf, as jy my vra.
Wessel Marais spreek in sy boek sy verwondering uit dat die bulhond haar plat snoet juis by daardie sensitiewe area so diep kon inslaan om soveel skade te veroorsaak. Op my beurt wonder ek, as dit nie buite orde is nie, hoe lank dit geduur het voordat die beskadigde pad deur Richmond weer oopgestel kon word vir verkeer!