In sy afskeidsrubriek in  Rapport  roer Waldimar Pelser  ‘n sekere geesgenootskap  tussen Rapport en NP van Wyk Louw aan. Op Sondag 29 November 1970 is Rapport se eerste hoofartikel byvoorbeeld ingelui met Louw se woorde:  “Die vrye meningswisseling is die lug waarsonder ons nie kan lewe nie.”

Meer voorbeelde van sulke vrugbare wisselwerking van denke bestaan – ook met  Rapport se een voorganger, Die Beeld.  Die verhouding tussen Louw en Schalk Pienaar, eerste redakteur van Die Beeld, het in die 40’s egter bra suur begin.

Oor die rede sou ‘n mens vandag dalk kan glimlag – maar dit was ernstige sake. Pienaar, toe nog by Die Burger, het die betekenis van ‘n Louw-gedig bevraagteken. Die opskrif: “Voortreflike onbegryplikheid”.  Louw het hom opgeruk . Hy het “die artikeltjie van die heer Pienaar” as “dom en oningelig” beskou.

Pienaar het in Huisgenoot betoog dat in Afrikaans al hoe meer dinge geskryf word wat hy – wat darem kan oor die weg kom met die Psalms, Shakespeare en Goethe – nie kan verstaan.  Hy haal dan Louw se gedig “Spieël en venster in die nag” aan: “Sal ek die klare dodes noem /In hierdie blink en bitter nag /En aan die dun galg van die roem / Ook dié gesig sien lag.”

Hy kon daar “geen woord van wys word nie,” kla hy. “ Die digter – hy is een van ons heel bekendste – was so vriendelik om in die opskrif te verduidelik dat die vers met ‘n spieël, ‘n venster en die nag te doen het.  Maar wat, kon ek tot op hede nie agterkom nie.”

Diegene wat “hierdie moderne Afrikaans “ prys,  is of vriende van die skrywer of mense “wat alle onbegryplike dinge kuns noem” of wie se “status as kunsindoenas” daarvan afhang dat daar ‘n “standhoudende voorraad onverstaanbare dinge” sal wees waaroor hulle “onverstaanbare menings” kan uitspreek.

Dan vervolg hy: “Ek sou hierdie mense hul vermaak gun as dit onskuldige vermaak was, maar die saak gaan verder.” Dan volg, waarteen Louw die ergste eksepsie geneem het:  Dat mense die idee propageer dat “sulke dinge aanprysenswaardig is” en daardeur “‘n mark vir hulleself verwerf”; terselfdertyd dat dinge wat nie so is nie, verwerplik is – en daardeur word “andere se mark bederf.”

Louw het hierdie uitspraak vertolk as sou dit “oneerlike motiewe aan sy literêre werksaamheid toeskryf”.

Huisgenoot het teruggekrabbel: Hy moet erken dat die woorde vatbaar is vir hierdie uitleg, maar dit was nie die bedoeling nie. Die tydskrif betuig ook names Pienaar sy spyt en publiseer ‘n apologie en ‘n kwaai brief van Louw.

Louw skryf: Wanneer Pienaar beweer dat sy optrede geen “onskuldige vermakie” is nie, en insinueer dat dit is om ‘n mark te verseker en “ander se mark te bederf”, word dit “persoonlike bekladding”.  (En as hy  – Pienaar – nie meen dat dit in die bedoeling van sy woorde lê nie, “begryp hy sy eie Afrikaans net so min as dié van die jonger digters.”)

In ‘n naskrif skryf hy: “Die heer Pienaar se verklaring dat hy alles in die Psalms, Shakespeare en Goethe begryp, was seker glippens – ‘n stukkie optimisme wat hy sal verloor as hy dié werk en dié skrywers ‘n bietjie meer gaan lees.”

Lesersbriewe het ingestroom – en die meeste was dit met Pienaar eens.

Daar was ook ‘n geval dat Pienaar ‘n vroeë digbundel van Louw – watter een het my ontgaan – in ‘n resensie in Die Burger taamlik afgekam het.  In literêre kringe is dit as ‘n erge mistasting bejeën.

Tog het wedersydse begrip gegroei, soos Pelser aantoon. Wat bygevoeg kan word, is dat  Die Beeld se tweede hoofartikel verskyn het onder die opskrif “Oop gesprek”  – natuurlik een van Louw se groot temas.

Betekenisvol is dat Schalk Pienaar hom in 1966 bankvas agter Louw ingewerp het in die storm oor sy omstrede toneelstuk “Die Pluimsaad waai ver”. Louw het opdrag gekry om n stuk te skryf vir die vyfde herdenking van die Republiek op 31 Mei 1966. Dr. Verwoerd het die stuk in sy feesrede heftig gekritiseer omdat daarin nie net hulde aan helde betuig is nie, maar in Afrikanergeledere in die Anglo-Boereoorlog ook verraad en ander swakhede raakgesien is. In die agteropskop, gretig ondersteun uit regse politieke kringe, was Die Transvaler en Die Vaderland op die voorpunt, lees ek in Alex Mouton se biografie oor Schalk Pienaar, Voorloper. In ‘n latere hoofartikel het Pienaar die digter onder sy vlerk geneem en verklaar dat hy verhewe is bo die kleinlike kritiek van verkramptes. Sommige het dit as “boetedoening” vir sy Huisgenoot-artikel beskou.

 

Van sy kant het Louw – moedeloos oor die peil van noordelike Afrikaanse koerante – voor die verskyning al gemeen die koms van die koerant is “ soos suurstof vir ‘n mens wat in ‘n moeras vasgevang is”. Tussen digter en redateur het mettertyd ‘n kameraderie ontwikkel wat tot oor en weer kuiers oor ‘n glas goeie brandwyn gelei het.

  • ‘n Melkbosse vriend, wyle Danie Krynauw, het vertel dat hy Louw ‘n keer gevra het na die betekenis van ‘n gedig wat vir hom duister was. Louw se antwoord: “Mnr. Krynauw, toe ek die gedig geskryf het, het net twee geweet wat dit beteken – die liewe Here en ekself.  Nou weet net die liewe Here.”
Deel dit: