
Kerk in Skukuza.
Sondag toe ons die unieke doopvont – ‘n knoetsige stomp hardekool op wieletjies (omdat dit so swaar is) – voor die kansel sien staan, besef ons dadelik: vandag word hier gedoop in Skukuza-kerk.
Doop is, raar maar waar, ’n seldsaamheid in die wildtuingemeente. Sondag was maar ons tweede in die oor die 20 jaar dat ons in Sabiepark kom kuier. Dit beteken natuurlik geensins in al die jare is net twee keer gedoop nie, genade, nee – maar ds. Carl Louwrens bevestig: die doop is ’n sakrament wat in sy kerk nie aldag bedien word nie Hoekom, weet hy nie. Sy eie plig het hy immers nie in die verband versuim nie, gee hy met ‘n vonkel in die oog die versekering.
So min word, trouens, gedoop dat hy elke keer skaars sy lus kan bedwing om die hele uitvoerige doopformulier woord vir woord te lees voordat hy die gebruiklike vrae aan die doopouers stel.
Sondag het die doopouers, Conrad en Maya Booyens van Letaba, hom as ’t ware gesystap – darem met sy goedkeuring. Die doop-belofte was ’n intieme selfgeskepte dokument. Mamma Maya het dit voorgedra – plek-plek met ’n bewende onderlip. Pappa Conrad, trots soos ‘n pou, het uit die Bybelboek Sagaria ’n stukkie voorgelees.
Klein Hugo Booyens was ’n regte meneertjie so met sy deftige kruisbande en al. Stroopsoet en geduldig het hy in sy ma se arms gesit terwyl ’n video van hom in ’n verskeidenheid monderings in verskillende omgewings vertoon is. Op een skyfie was hy op ’n antieke wakis, het dit gelyk. Op ’n ander weer op ’n moderne smuktassie. Elke grootouer het kans gekry om vir die kamera die kleinkind vas te hou.
Wat my en Tokkie betref, was hierdie karaktervolle doop ’n tradisie wat voortgesit is. Ook ons eerste doop in hierdie intieme boskerkie in die personeeldorp, waar vlakvarke soms die grasperk omdolwe en voëls in die reuse-koorsboom by die trappe hul eie koorsang aanhef, was iets om te onthou.
Die meisietjie se rokkie was die ene donsige tarentaalveertjies. ‘n Kinderkoor het haar toegesing, ‘n CD is gespeel en in die voorportaal was ‘n reuse-tietiebottel: een waarmee wees-olifantjies gevoed word. Na die diens was daar ‘n kreunende koektafel onder die bome wat elke kerkbasaar eer sou aandoen. Die dooptee was vir almal in die kerk – ook vir die uwe in sy sportiewe vakansiedrag wat toe nog ‘n volslae vreemdeling vir die liewe mense van Skukuza was.
Ds. Carl het altyd ‘n boodskap wat tref. Sondag het hy almal weer diep laat nadink oor die voorbeeld wat hulle stel vir hul kinders wat hul voetspore sal moet volstaan. Hoor julle kinders julle byvoorbeeld ooit hardop bid? Sit julle ooit saam om ‘n tafel en lees uit die Bybel?
In April doop hy ‘n eie kleinkind – sy tweede dogter, Madge, se dogter – in die gemeente Blouberg in die Kaap, ons buurgemeente. Vir seker gaan die Van Deventers die geleentheid bywoon, Wonder net of die hele formulier dan gelees gaan word. En of ds. Carl dalk ‘n bietjie bewoë gaan raak, soos sy vrou, Sarah, stellig verwag.