I
n my boek “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedoodkoerantman” hou ek my lyf onder meer rugbyskrywer – Herman le Roux en Frikkie van Rensburg skuif op!
Van die gedenkwaardigste oomblikke in Bok-rugby op SA velde het voor my oë afgespeel, vertel ek in ‘n hoofstuk oor Murrayfield en daarna.
Mannetjies se drie op die Vrystaatstadion – natuurlik het ek dit gesien. Frik se score, place en drop op Loftus – natuurlik was ek op die paviljoen. Toe Francois Pienaar die Wêreldbeker lig, was ek natuurlik een van die voetstampende juigendes op Ellispark.
Ek hou my lyf ook boksskrywer – vertel van smaaklike onderhoude met ons twee bul-swaargewigte van die 70’s, Gerrie “(Seer handjies”) Coetzee en Kallie (“Bek van Boomstraat”) Knoetze. My bokservarings is egter van beperkter omvang as my rugby-ervarings. Net een swaargewig-boksgeveg bygewoon: op Loftus: Gerrie teen “Big John” Tate van Amerika.
Vroeg in 1979 het Gerrie Leon Sprinks in Monaco met ’n tegniese uitklophou verslaan. Verwagtinge was hoog. Maar Tate het ons held op Loftus opgedons.
Oor krieket skryf ek nie in “Laatoes” nie. Wel in Februarie 1970 vyf dae saam met Frikkie van Rensburg langs die die Wanderersveld in Johannesburg gesit toe die Bokke (ja, nog nie Proteas nie) die veelgeroemde Australiërs se neuse met 307 lopies in die derde toets in die grond gevryf het om die reeks te beklink.
Ek onthou wonderlike kolfwerk van Graeme Pollock, Barry Richards en Eddie Barlow. Peter Pollock en Mike Procter se blitsballe was vir die Aussies een te veel.
En atletiek? Een naam staan groot oor my atletiekervarings geskryf: Zola Budd. Hoeveel keer het ek nie die skaam, kaalvoetatleetjie op die Vr
ystaatstadion wondertye sien opstel in die 80’s nie! Sal darem ook nie vergeet hoe naelloper Sep Serfontein vir Tukkies Dalrymples gewen het nie, o.m. op Coetzenburg.
En ja, ek was in 1952 by die Van Riebeeckfees in Kaapstad op die paviljoen toe meisies soos Nederland se Fannie Blanckers-Koen en ons eie Daphne Hasenjager die baan aan die brand gehôl het.
Voor die radio was my plek nooit leeg as ‘n Suid-Afrikaner boks (kapokgewig Vic Toweel se verowering van die wêreldtitel onder meer) of die Springbokke rugby of krieket speel nie. Selfs vir rofstoei nadergeskuif: Willie Liebenberg teen “Sky High Lee” en daardie snare.
Ai, die nostalgie wil hierdie ou al weer oorweldig.
Hennie – Ek het heelwat van bogenoemde ook bygewoon. Was in 1949 op Nuweland toe Okey Geffen ons tot oorwinning geskop het. Kan nie veel onthou nie, want die geleentheid was te oorweldigend vir ‘n 8-jarige seuntjie van Calvinia!
Pierre, jy moet een van die laaste oorlewendes van daardie Nuwelandse skare wees. Is dit nie ‘n skrikgedagte nie? My kennismaking met groot rugby was eers in 1951 met die proewe.
HvD
Pierre was bevoorreg om Okey Geffin se skoppe op Nuweland te sien, maar ek was in 1949 gelukkig om Hansie Brewis se droomdrie op Ellispark te sien.