Hennie Jonker in vrolike luim.
More uit Melkbos
B0-aan die lys van dapperste boksers is die swaargewig Joe Frazier wat in die 70’s in twee gevegte deur Joe Foreman 12 keer platgeslaan is. Elke keer het hy orentgekom en voortgeveg. Hennie Jonker van Melkbos is op sy 77ste verjaardag met Frazier vergelyk.
In sy 77ste jaar was hy 12 keer in die hospitaal, o.m. vir groot rug- en nekoperasies. Hy ly ook aan ‘n chroniese bloedsiekte. In die jaar het hy 44 pinte bloed ontvang. Met tye kon hy skaars ‘n toon roer. Die kampioenvegter het hom nie laat uitklop nie. Met ‘n ysere wil, leeuemoed en vaste geloof het hy elke keer opgestaan.
Welmenende vriende – onder wie die uwe – wou Hennie in ‘n stadium oortuig dat hy moet skuif uit sy mooi woonstel met die treffende see-uitsig in Kusweg. “Ou vriend, jy sal nooit weer onafhanklik op jou eie kan woon nie.”
Hy het ons doemprofete met ‘n houtoog aangekyk. Vandag is hy ten volle onafhanklik – ry die wereld vol met sy splinternuwe Touareg. Hoe dankbaar is sy kleingelowige vriende nie dat ons kanniedoodmaat ons verkeerd bewys het!
In die hulde wat by ‘n intieme ete aan hom betuig is, het ek verwys na die talle boeke oor dapperheid wat biblioteke se rakke versier: Boeke oor helde wat sterk, vreesloos en vasberade in aardebewings, brande, orkane, ander storms dinge vermag het wat vir ander bomenslik lyk.
Hennie se storie is so spesiaal dat dit ook hoort in die bladsye van ‘n boek, soos Rudyard Kipling se “Captain Courageous” Hy is Melkbos se eie “Captain Courageous”. (hvd)
