Diegene wat brieweblaaie lees, hetsy in koerante of tydskrifte – geseënd is hulle! –   sal weet dat om sulke briewe te skryf ‘n akiwiteit is waaraan hierdie oud-koerantman nogal entoesiasties deelneem.

Dosyne, dalk honderde, briewe uit my pen oor ’n bonte verskeidenheid onderwerpe het in die laaste twee dekades of wat in koerante en tydskrifte verskyn. ’n Mooi klomp word in Netwerk24 se digitale argiewe bewaar.

Die briewegier het my nogal vroeg gepak. In 1955 in standerd agt (graad 10) op Potchefstroom was my buiging In die Sondagkoerant Dagbreek & Sondagnuus oor die meriete van ’n Springbok-krieketkaptein, die middelorde-kolwer Jack Cheetham, met ’n toetsgemiddelde van net iets in die 20 en geen toets-100 op sy kerfstok het nie. Later, toe ek hoor hoe hoog aangeskrewe hy as kaptein was, het ek ietwat goor gevoel oor my voortvarendheid.

Verskeie goedvoel-oomblikke oor briewe was daar  gelukkig ook. Een was met die afsterwe van appèlregter Gustav Hoexter in 2024. My hulde aan die groot gees het net mooi die helfte van Die Volksblad se brieweblad ingesluk onder die opskrif: “’n Gustav Hoexter skop jy nie onder elke bos uit nie”. Veral ”Koos van die Waterberge” het die brief nogal hoog aangeslaan.

Oor geen ander kwessie het ek so ’n briewe-kampanje gevoer nie as die gewraakte Bird Island-boek wat ná ’n fel stryd as ’n  sameflansing van skinderstories en versinsels ontmasker, en toe van die rak af verwyder is.  Ek tel agt briewe oor die onderwerp uit my pen. Van hulle was in al drie destydse dagblaaie, Die Burger, Beeld en Volksblad. Ander in Rapport.

‘n Polemiek waarin ek myself nie as wenner sal kroon nie, was oor die wapen van die Hoër Volkskool, Potchefstroom, my alma mater, wat stilletjies deur die beheerliggaam verander is – van ’n strak, treffend eenvoudige ontwerp tot ’n bont besigheid met tot ’n krans van akkerblare.  Dit is helaas steeds die wapen.

Jammer oor die lang aanloop. Eintlik wil ek net deel (en skryf die onbeskeidenheid tog maar aan hoë ouderdom toe) dat ‘n brief van my in die jongste uitgawe van die gawe tydskrif Platteland kan aanspraak maak op iets wat een van my skrywes nog nie tevore te beurt geval het nie.  Die brief beslaan naamlik ‘n hele blad en word met drie foto’s opgekikker.

Die opskrif is “Die soet smaak van sukses …”.   En ja, die smaak is inderdaad soet om deur ‘n “geagte redakteur” so welwillend behandel te word.

 

 

Deel dit: