
15 Maart 1966
Die jaar 1946 se uitsonderlike bydraes tot die wêreld waarin ons woon, was onder meer die bikini, die Biro-pen, die Vespa, sykouse, die Ystergordyn, die VVO, Heathrow-lughawe en Gesina Susara van Wyk, die nimlike Tokkie van Deventer van Melkbos wat vandag oor ‘n week, op 15 Maart, 80 jaar oud word.
Vir my is Tokkie se verskyning op die ondermaanse die topstorie van die jaar. Maar ek erken vooroordeel aan my kant.
Ander nuwe aankomelinge van die Tokkiejaar was onder andere Dolly Parton oor wie se 80ste in Januarie nogal ‘n bohaai gemaak is, Farrah Fawcet-Majors, George Best, Sylvester Stallone, Illie Nastase, José Carreras en Emerson Fittipaldi van elders, asook Whitey Basson, Liedjieboer Anton Goosen (enkele dae gelede), Bles Bridges, Allan Boesak en Steve Biko van hier. Vir ‘n sekere garde sal van die name, indien nie almal nie, wel iets beteken.
Die wêreldbevolking in 1946 was 2 147 000 000. In die afgelope 80 jaar het die syfer nogal geklim. Dit staan op 8,3 miljard.
As motor-entoesias neem ek kennis dat die 1946-model Ford Super Deluxe waarskynlik die jaar se topkar was. Die weelderige Chrysler Town & Country was ook ‘n aanspraakmaker. Massaproduksie van die ikoniese Volkswagen-Kewer het begin.
Onder die boeke van die jaar was “The Pianist” wat ’n onvergeetlike fliek geword het. ‘n Fliek wat die Oscars laat instroom het, was “The Best Years of Our Lives”. Onder die groot name in Hollywood was Gregory Peck, Ingrid Bergman en Lana Turner. Alfred Hitchkock was al op die toneel met die riller “Spellbound”.
Perry Como was topsanger met vier treffers, o.a. “Prisoner of Love”, die nommer-een-lied van die jaar. Bing Crosby en Frank Sinatra was op sy hakke. In Parys het ‘n “Mossie” Edith Piaf gesing: “La Vie En Rose”.
Op sportgebied was name soos Joe Louis (boks), Ben Hogan en Sam Snead (gholf) en Wally Hammond (krieket) prominent. Die lank vergete Fransman Yvon Petra was Wimbledonkampioen.
Aanstaande Sondag, 15 Maart, is nie net Tokkie se verjaardag nie. Dit is ook die heuglike dag waarop ek 60 jaar gelede die verloofring aan haar vinger gesteek het – die mooiste bloem van Bloemfontein het myne geword! Die foto’s hierby is daardie aand geneem.
Dit is verder die Idus van Maart – die 74ste dag op die Romeinse kalender – die dag waarop Julius Caesar in 44 v.C. vermoor is, en die dag waarop Hendrik Verwoerd Suid-Afrika in 1961 uit die Statebond geneem het. Tokkie was toe in standerd agt .
In September 1966 is Verwoerd vermoor. Tokkie was toe twintig. Dit is ook die jaar waarin ons verloof en getroud geraak het. Sedertdien het 60 jaar verloop. Ons is amper by ons diamant-bruilof.
Naskrif: Die bikini is ontwerp deur ‘n gewese motoringenieur, Louis Reard. Die naam kom van die Amerikaanse toetsterrein van die kernbom, Bikini Atoll. Reard het gemeen sy ontwerp het selwers “sterk plofkrag”. Hy het nie misgetas nie, het hy?